Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 18 Maart 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met rugby: Ierland beskou glo die Springbokke as die volgende uitdaging wat hulle nodig het. Die Iere het Saterdag hulle 16de Sesnasies-titel ingepalm met ‘n oorwinning van 17-13 oor Skotland, sy 19de agtereenvolgende sege op sy tuisveld. Ierland se volgende uitdaging is ‘n toer na Suid-Afrika in Julie om die eerste keer in agt jaar met die heersende Wêreldbekerkampioen kragte te meet in Pretoria en Durban. Die voormalige Ierse speler Andrew Trimble het aan Virgin Media Sport gesê dit gaan ‘n reusestryd wees.
# Sokker: NotInMyName International sê hy bly vasbeslote om die gewese visepresident van die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging, Ria Ledwaba, te beskerm. Sy is uit al die sport se bedrywighede verban oor haar besluit om die vereniging hof toe te neem en die uitslag van die presidentsverkiesing van Junie 2022 uit te daag. NotInMyName se woordvoerder, Themba Masango, sê hulle sal die media Woensdag toespreek om Ledwaba se nalatenskap te verdedig:
# Tennis: Die wêreld se nommer twee, Carlos Alcaraz, het sy Indian Wells-titel suksesvol verdedig. Die 20-jarige Spanjaard het die wêreld se nommer vier, Daniil Medvedev van Rusland, 7-6, 6-1 verslaan om sy eerste sege sedert verlede jaar se Wimbledon te behaal. In die vroue-afdeling het wêreld-nommer-een, Iga Swiatek van Pole, haar tweede Indian Wells-titel opgeraap toe sy die Griek, Maria Sakkari, met 6-4, 6-stroop afgeransel het. Swiatek sê sy is trots op die manier waarop sy deur die hele toernooi geveg het:
# Gholf: Die wêreld-nommer-een Scottie Scheffler, het die eerste speler geword wat sy titel suksesvol verdedig op die Spelerskampioenskap. Die Amerikaner, wat met ‘n nekbesering gesukkel het, het in die laaste ronde ‘n agterstand van vyf houe oorkom en die 50ste vlagskiptoernooi van die PGA Toer met ‘n agt-onder 64 gewen. Hy het klaargemaak op 20 onder, een hou voor sy landgenote Brian Harman, Xander Schauffele en Wyndham Clark. Scheffler sê die oorwinning is vir hom spesiaal omdat hy met ‘n besering gespeel het:
# En laastens, nuus van die Olimpiese Spele: Die visepresident van die Internasionale Olimpiese Komitee, John Coates, sê hy is onseker hoeveel Russiese atlete vanjaar aan die Spele in Parys gaan deelneem. Russiese en Belarussiese atlete mag slegs as neutrale mededingers aan individuele items deelneem weens Moskou se inval in Oekraïne. Coates sê daar kan so min as 40 Russiese atlete wees wat as neutrale mededingers aan die Spele deelneem. Moskou het die beperkings bestempel as onwettig, onregverdig en onaanvaarbaar.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….