Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 18 Maart 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die bestuur van Ithala Bank het tydelike uitstel gekry nadat die Hooggeregshof in Pietermaritzburg bevind het die Bankreguleerder het die bank onregverdig behandel deur sy deposito-aktiwiteite in die geheim onder administrasie te plaas.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig eerstens oor die voortgesette waterprobleme in Gauteng wat deur stelselprobleme en die hittegolf vererger word. Die voorsiening vanaf reservoirs gaan nou beheer word.
Dan skryf die koerant oor die afsterwe van die veteraan-akteur Julie Strijdom aan nierversaking.
En laastens is daar ‘n berig oor Nicolle Weir van Pretoria wat deelname aan die Cape Epic-bergfietstoer as 50ste verjaardaggeskenk ontvang het.
# The Star en Pretoria News:
Skryf ook oor die voortslepende waterprobleme in Gauteng.
En berig oor ‘n seun van Soweto wat na bewering ontvoer is en veilig aan sy ouers terugbesorg is.
# Sowetan:
Berig president Cyril Ramaphosa het verkiesingsgeweld veroordeel nadat 11 ANC-ondersteuners beseer is tydens ‘n geleentheid vir die Zoeloe-koning wat hy toegespreek het. Die IVP het ontken dat sy lede betrokke was.
# En The Citizen:
Lei met: “EXPOSED: SAA’S DODGY DEALING”. Die koerant skryf oor e-posse wat aan die lig gekom het waarin sensitiewe inligting oor Airlink gedeel word.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig die Weerdiens het ‘n waarskuwing uitgereik vir uiterste brandgevaartoestande in die Vrystaat en Noord-Kaap vir die volgende paar dae. Reën word darem van Woensdag af voorspel.
En tweedens skryf die koerant oor die laaste valskermsprong van die 60-jarige Johan “Bom” du Preez van Bloemfontein. Dié bomdeskundige van die polisie het oor 45-jaar meer as vyf-duisend spronge uitgevoer.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig oudpresident Jacob Zuma het by ‘n Afrikaner-leierskapsforum in Pretoria die versekering gegee dat die MK-party nie Afrikaners sal vermoor nie.
Tweedens is daar nuus oor die inhegtenisneming van ’n 32-jarige vrou in verband met die verdwyning van Joslin Smith. Sy sal vandag in die hof verskyn.
En laastens berig die koerant ook oor Johan “Bom” du Preez.
# En Cape Times:
Skryf die ontbondeling van Eskom sal volgens kenners ‘n negatiewe uitwerking op verbruikers hê.
En berig ook oor die vrou wat in verband met Joslin se verdwyning in hegtenis geneem is.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig dit het uit uitgelekte dokumente aan die lig gekom die Oos-Kaapse Departement van Gesondheid het byna drie-miljoen-rand opgedok om twee senior amptenare vir tot drie jaar by Gqeberha-hotelle te huisves.
En tweedens skryf die koerant die DA-raadslid, Jaques Alexander wat vroeër geskiet is en nog operasies moet ondergaan, se seuns is Sondag ook buite ‘n Jeffreysbaai-nagklub geskiet.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf ook oor die aanval op ANC-lede waartydens 11 mense beseer is.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die Kankervereniging van Namibië se prokureur formuleer op die oomblik klagtes teen ’n vrou van Tsumeb wat na bewering vir meer as vier jaar kanker gebruik het om mense in die dorp en omgewing in te loop.
En tweedens skryf die koerant ‘n Zimbabwiese boer en menseregte-aktivis sê die heropening van die SAOG-tribunaal is vir alle mense wat onreg lei aan die hand van onregverdige mense.