Nuus 06:00
BULLETIN 18 Maart 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Adjunkpresident Mashatile sê die ANC sal die verkiesing wen ondanks negatiewe peilings
# Fase 2-beurtkrag word tot verdere kennisgewing ingestel
# En, Johannesburg Water gaan beperkings instel om waterprobleme aan te spreek
# Die adjunkpresident van die ANC, Paul Mashatile sê ondanks negatiewe peilings, is hulle vol vertroue dat die ANC die komende verkiesing sal wen. Talle peilings toon die ANC se steun gaan waarskynlik in die algemene verkiesing van 29 Mei tot onder 50-persent daal, wat die deur oopmaak vir ‘n moontlike koalisieregering. Mashatile, het gister tydens ‘n verkiesingsveldtog in Noordwes gesê die ANC steur hom nie veel aan peilings nie, aangesien dit slegs spekulasie is:
# Die minister van Binnelandse Sake, Aaron Motsoaledi, sê hy het die Spesiale Ondersoekeenheid gevra om ‘n senior Noordwes-regeringsamptenaar te ondersoek wat aangestel is nadat hy ‘n vervalste verblyfpermit verkry het. Kudakwashe Mpofu van Zimbabwe was as finansiële hoof by die Noordwes Ontwikkelingskorporasie aangestel. Hy is tans in ‘n stryd gewikkel om sy deportasie te keer. Motsoaledi sê die aangeleentheid is ‘n nasionale verleentheid:
# Eskom sê fase twee-beurtkrag is vanoggend van vyfuur tot verdere kennisgewing ingestel. Dit is as gevolg van die verlies van twee opwekkingseenhede oor die afgelope 24 uur, en groter beplande instandhouding as deel van die plan om die betroubaarheid van sy opwekkingsvloot te verbeter. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokwena, sê altesaam drie-duisend-830 megawatt se opwekkingskapasiteit sal na verwagting teen Woensdag weer beskikbaar gestel word:
# Johannesburg Water gaan verdere beperkings instel om probleme met watervoorsiening aan te spreek. Die nutsmaatskappy het die hittegolf in Gauteng en lae reënval die skuld gegee vir die reuse-wateraanvraag, wat ‘n stremming op sy stelsel plaas. Johannesburg Water sê hy gaan die uitlate by sy reservoirs beperk om die stelsel te balanseer wat gaan lei tot swak waterdruk of geen voorsiening nie. Hy sê die huidige aanvraag is groter as waaraan hy kan voldoen.
# Die Russiese departement van Verdediging sê sy magte het tientalle hommeltuie in verskeie streke in die land vernietig. Die grootste aanval was in Krasnodar waar ‘n olieraffinadery geteiken is. Amptenare in Oekraïne het hernude Russiese lugaanvalle in Odessa aangemeld. Die aanvalle het gebeur te midde van Rusland se omstrede algemene verkiesing wat president Vladimir Putin gewaarborg is om te wen. Die BBC berig twee Oekraïnse hommeltuie het ‘n stemlokaal aangeval, wat die gebou aan die brand gesteek het, maar niemand is dood of beseer nie.
# Rugby: Ierland beskou glo die Springbokke as die volgende uitdaging wat hulle nodig het. Die Iere het hulle 16de Sesnasies-titel Saterdag met ‘n oorwinning van 17-13 teen Skotland ingepalm. Die kampioene het hulle veldtog afgesluit met ‘n 19de agtereenvolgende sege op hulle tuisveld. Ierland se volgende uitdaging is hulle toer na Suid-Afrika in Julie, om vir die eerste keer in agt jaar teen die heersende Rugby-Wêreldbekerkampioene in Pretoria en Durban kragte te meet. Die voormalige Ierse speler, Andrew Trimble, het aan Virgin Media Sport gesê dit gaan ‘n reusestryd wees.
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-76-sent teen die dollar, 20-rand-42-sent teen die euro en 23-rand-88-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-574-dollar-40-sent. Die prys van goud is twee-duisend-152-dollar-55-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 85-dollar-53-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….