Nuus 07:00
BULLETIN 16 Maart 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Cosatu bevraagteken die gebrek aan nuwe bloed by die Reserwebank
# Eskom verwag ‘n laer naweekaanvraag
# En, gholf: ‘n Suid-Afrikaner stof internasionale mededingers in Kaapstad uit
# Cosatu sê hy is teleurgesteld die regering het die geleentheid misgeloop om nuwe bloed en mense met uiteenlopende menings oor die ekonomie by die Suid-Afrikaanse Reserwebank aan te stel. Mampho Modise is die week as die nuwe adjunk-president aangestel, terwyl Lesetja Kganyago as president behou is. Cosatu se waarnemende woordvoerder, Matthew Parks, sê die mense wat aangestel is kom uit die Tesourie se konserwatiewe, ortodokse skool van ekonomiese denke:
# Eskom het aangekondig beurtkrag sal van vyfuur vanoggend tot vieruur vanmiddag opgeskort word, waarna fase een beurtkrag tot môreoggend vyfuur ingestel sal word. Die naweek se beurtkragpatroon sal môre herhaal word weens die laer as verwagte aanvraag. Die kragreus beplan om teen Maandag drie 100-megawatt-opwekkingsvermoë aanlyn te bring. Verdere opdaterings vir die week wat voorlê sal môremiddag verskaf word.
# Die Oos-Kaapse LUR van Gemeenskapsveiligheid, Xolile Nqatha, het verskerpte misdaadoperasies in Gqeberha se bendegeteisterde noordelike gebiede aangekondig. Die stap volg ná ‘n misdaadberaad wat die departement aangebied het, wat daarop gemik was om bendegeweld en dwelmmisbruik te bekamp. Nqatha sê met die fokus op misdaadintelligensie, teiken die operasies gebiede wat berug is vir misdadige bedrywighede en versterk pogings om gemeenskapsveiligheid te verbeter:
# Gholf: Die 19-jarige Gabrielle Venter het haar eerste groot titel as ‘n beroepspeler ingepalm toe sy die Vroue Ope by die Royal Cape-gholfklub gewen het. Venter het die finale ronde met ‘n vier-onder-baansyfer 70 in die Moederstad voltooi en op nege onder baansyfer geëindig, wat aan haar ‘n oorwinning van een hou besorg het. Kylie Henry van Skotland het een hou oor baansyfer op die 17de en 18de putjies gespeel, wat haar voorsprong van een hou uitgewis het. Henry was saam tweede met Emie Peronnin van Frankryk.
# En ten slotte: President Cyril Ramaphosa sal vandag die 110de herdenking van koning Dinuzulu ka Cetshwayo in KwaZulu-Natal vier. Dit begin met ‘n kransleggingseremonie by die King Dinuzulu-gedenkteken in Emakhosini, om die koning se verset teen koloniale heerskappy te herdenk. Koning Dinuzulu se rol in die vorming van Suid-Afrika se reis na demokrasie sal deur die Zoeloe-koninklike familie, akademici en kultuurgroepe gevier word deur ondermeer bedrywighede soos konferensies en musiekfeeste. Die geleentheid bereik ‘n hoogtepunt op die KwaCeza-sportveld, wat die koning se geskiedkundige oorwinning oor koloniale magte sal simboliseer.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….