Nuus 09:00
BULLETIN 15 Maart 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Trevor Manuel beskou kaderontplooiing as die grootste swakheid in Suid-Afrika op die oomblik
# Suid-Afrika en Zimbabwe onderteken ‘n ooreenkoms vir wateroordrag na Musina
# En, tennis: Alcaraz en Sinner kom teen mekaar te staan in die Indian Wells-halfeindstryd
# Die gewese minister van Finansies en anti-apartheidsaktivis Trevor Mauel sê die grootste swakhede tans in die staat is kaderontplooiing en finansiële bestuur. Hy het die hoofrede by The Gathering 2024 van die Daily Maverick gister in Kaapstad gelewer. Manuel sê sy geslag is daarvan beskuldig dat hulle van ‘n onvolledige oorgang weggestap. Hy sê daar was egter ‘n behoefte aan ‘n eerlike gesprek oor onafgehandelde sake, insluitend presidensiële prerogatiewe:
# Die minister van Water en Sanitasie, Senzo Mchunu, en sy Zimbabwiese eweknie, minister Anxious Jongwe Masuka, het ‘n memorandum van verstandhouding onderteken vir die oordrag van behandelde water van die Beitbrug-waterbehandelingsaanleg na Musina in Limpopo. Die direkteur-generaal, Sean Phillips, sê die bilaterale ooreenkoms sal ongeveer 15-miljoen kubieke meter per jaar aan die gebied verskaf. Meer as 132-duisend inwoners in 192 dorpies sal daaruit voordeel trek, met verskeie sosio-ekonomiese bedrywighede wat ondersteun sal word:
# Die ANC in die Johannesburgse metro vra die stad om met alle rolspelers hande te vat om te sorg dat die uitdagings met watervoorsiening opgelos word en ‘n langtermynplan vir infrastruktuur-verbetering ingestel word. Inwoners van sekere dele van die stad het 13 dae ná die eerste onderbreking by Rand Water se Eikenhof-pompstasie steeds nie water nie. Die ANC sê Rand Water moet sy sake regruk omdat die ineenstorting van infrastruktuur regstreekse nagevolge op inwoners se lewe het.
# Die pa van ‘n tiener wat in November 2021 vier leerders by ʼn Michigan-hoërskool doodgeskiet het, is aan onwillekeurige manslag skuldig bevind. Die 15-jarige Ethan Crumbley het ʼn vuurwapen by sy huis gevat en leerders by die Oxford Hoërskool doodgeskiet. Tydens die pa, James Crumbley, se verhoor het aanklaers bewys die wapen was nie veilig gebêre by die huis nie. Sy vrou, Jennifer, word volgende maand gevonnis nadat sy op dieselfde aanklagte skuldig bevind is. Die Crumbleys is die eerste Amerikaans ouers wat op hierdie wyse vervolg word.
# Tennis: Die verdedigende kampioen, Carlos Alcaraz, kom in die Indian Wells se halfeindronde teen die Italianer, Jannik Sinner, te staan. Die Spanjaard het Alexander Zverev van Duitsland met 6-3 en 6-1 afgeransel. Die Australiese Ope-kampioen, Sinner, het sy segetog tot 19 uitgebrei toe hy Jiri Lehecka van die Tsjeggiese Republiek met 6-3 en 6-3 geklop het om die tweede agtereenvolgende jaar onder die laaste vier te eindig. Sinner sê hy het vanjaar baie meer selfvertroue in aanloop tot die halfeindronde:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-76-sent teen die dollar, 20-rand-40-sent teen die euro en 23-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-515-dollar-10-sent. Die prys van goud is twee-duisend-164-dollar-57-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 85dollar-19-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….