Nuus 06:00
BULLETIN 15 Maart 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Ace Magashule ontken dat hy verantwoordelik is vir die agterstand by die ANC-integriteitskommissie
# Rugby: Eben Etzebeth en Canan Moodie presteer by die SA Rugby-toekennings
# En, Wêreld-slaapdag beklemtoon die belangrikheid van goeie nagrus
# Die ANC se voormalige sekretaris-generaal, Ace Magashule sê die regerende party probeer verskonings vind om kandidate wat onder verdenking is, aan te stel in openbare poste. Dit volg nadat die huidige sekretaris-generaal, Fikile Mbalula gesê het Magashule is verantwoordelik vir die agterstand van die Integriteitskommissie se werk. Die party het onder kritiek deurgeloop omdat hy ook lede wat by staatskaping betrek word by sy kandidatelys vir die komende verkiesing ingesluit het. Magashule, sê hy was nie meer in die kantoor toe die Staatskapingskommissie sy werk en finale verslae voltooi het nie.
# Die DA beskuldig die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake van die toeken van twee-miljard-rand aan tussenganger-organisasies, wat 180-duisend werklose Suid-Afrikaners moontlike werksgeleenthede ontneem het. Die departement het betaling onthul van meer as 2,8-miljard-rand oor vyf jaar aan wat hy implementeringsagente noem, wat vrae laat ontstaan oor die program se doeltreffendheid en deursigtigheid. Eleanore Bouw-Spies van die DA vra dringende optrede om te verseker die fondse kom uit by mense in nood:
# Die Vryheidsfront Plus in Gauteng eis die onmiddellike bedanking van Mogale City-munisipaliteit se burgemeester, Danny Thupane, en raadspeaker, Lucky Sele. Gebiede insluitend Krugersdorp, Magaliesburg en Muldersdrift is al meer as tien dae sonder water, as gevolg van die watervlakke by die munisipaliteit se reservoirs wat steeds gevaarlik laag is. Danie Toerien van die VF-Plus sê die burgemeester en die speaker kommunikeer nie oor die watervoorsieningskrisis nie:
# Die Namibiese president Nangolo Mbumba het tydens sy Staatsrede in die Parlement die behoefte aan ekonomiese verligting en werkskepping vir Namibiërs erken. Mbumba het verder gesê die land werk aan die oorgang na groen waterstof met verskeie planne, insluitend die hervatting van bedrywighede in van die land se myne. Mbumba het sy eerste staatsrede tydens die komitee-stadium van die debatte oor die jaarlikse Begrotingswetsontwerp gelewer:
# Rugby: Die Springbok-slot Eben Etzebeth is aangewys as 2023-manspeler van die Jaar by die SA Rugby-toekennings in Johannesburg. Hy is slegs die tweede speler wat daarin kon slaag om dié toekenning agtereenvolgens in te palm. Die Bok-vleuel Canan Moodie is vir die tweede agtereenvolgende jaar as Jong Speler van die Jaar bekroon. Libbie Janse van Rensburg het met die Springbok-vroue- en Provinsiale Speler van die Jaar-toekennings weggestap. Ricardo Duarttee het die Springbok-mans-sewesspeler van die Jaar gewen, en die voormalige Bok-afrigter Jacques Nienaber is die Afrigter van die Jaar.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-75-sent teen die dollar, 20-rand-41-sent teen die euro en 23-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-777-dollar-34-sent. Die prys van goud is twee-duisend-162-dollar-61-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 85-dollar-20-sent per vat.
# En ten slotte: Vandag is Wêreld-slaapdag, wat fokus op die belangrikheid van goeie gehalte slaap vir die algehele welstand van mense. Vanjaar se tema is Gebalanseerde Slaap vir Wêreldgesondheid. Volgens die Amerikaanse Slaapvereniging ly meer as 50- tot 70-miljoen mense aan een of ander soort slaapversteuring. Die Wêreld-slaapvereniging sê mense word aangemoedig om na hul slaappatrone te kyk en gepaste veranderinge aan te bring om te rus. Die vereniging sê dit kan die opstel van ‘n nuwe slaapprogram en ‘n paar ontspanningsoefeninge voor slaaptyd insluit.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….