Goeie Nuus
BULLETIN 14 Maart
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die stad Kaapstad maak gereed vir ‘n besige week vol gebeurtenisse, met minstens 37 geleenthede die komende paar dae. Bo-aan die lys in die Moederstad is die 13de Kaapstadse Karnaval. Die burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekerheid, JP Smith, sê die karnaval, met meer as een-duisend-400 kunstenaars, vind Saterdag plaas. Hy sê die Cape Town Surf Pro-branderrykompetisie vind ook die naweek op Langstrand by Kommetjie plaas:
# Altesaam 354-duisend-rand is by die Wavescape Branderry- en See-fees in die Wes-Kaap ingesamel vir verskeie organisasies. Die Wavescape Kunsbord-projek wat sedert 2005 jaarliks aangebied word, nooi plaaslike kunstenaars om hul branderplanke kreatief te omskep om as kunswerk in te skryf. Die finale produkte sal opgeveil word. Vanjaar se opbrengs gaan aan die Nasionale Seereddingsinstituut, Shark Spotters, Ocean Pledge, die 9 Miles-projek en die Strand Co-op.
# Suid-Afrikaanse Nasional Parke het beurse van meer as twee-miljoen-rand toegeken aan 17 studente wat in ses provinsies naby nasionale parke woon. Die hoof van Kommunikasie, JP Louw, sê die beurse dek volle onderrig, verblyf en lewensuitgawes, en koester gemeenskapsontwikkeling. Dit word befonds deur ‘n een-persent toerismeheffing. Louw sê die ontvangers sal vakke bestudeer wat met bioverskeidenheid, toerisme en gasvryheid verband hou:
# Diere-welsynsaktiviste het verenig om PAWS R US te help om 130 honde te hervestig, te midde van die sloping van hul toevlugsoord vir honde in Johannesburg. Ná ‘n ernstige oproep op sosiale media vir ondersteuning, het die nie-winsgewende organisasie aanbiedinge ontvang van eiendom om te huur en ook noodsaaklike materiaal vir die bou van hondehokke. Die diere-organisasie, wat al vir meer as ‘n dekade lank lewensreddende hulp verleen aan talle honde wat hulp en ‘n heenkome uiters nodig het, sê elke skenking en elke woord van bemoediging is ‘n reddingsboei vir die honde.
# En, ‘n Britse gidshond-opleidingsliefdadigheid vra mense met uitsonderlike gesigskenmerke om te help om jong honde daaraan gewoond te maak. Navorsing toon amper twee-derdes van die honde reageer met vrees of verwarring op kenmerke waaraan hulle nie blootgestel was nie. Sky News berig die organisasie vra vrywilligers met baarde, snorre, helderkleurige Mohawk-haarstyle, gesigsdeurborings en -tatoeëermerke om na vore te kom. Hulle wil jong hondjies ook blootstel aan aspekte van die daaglikse lewe, soos babas en fietse.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….