Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 14 Maart 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Eerstens, rugby: Die Springbok Sewes se hulpafrigter, Philip Snyman, is tot Juliemaand bevorder tot hoofafrigter in die plek van Sandile Ngcobo ná die Blitsbokke se onlangse teleurstellende uitslae. Ngcobo keer terug as afrigter van die Sewes-Akademie. Die Blitsbokke het in 12 van die vorige 16 Wêreld-sewesseisoene onder die voorste twee geëindig, maar is tans sewende op die punteleer. SA Rugby se uitvoerende hoof, Rian Oberholzer, sê die korttermyn-behoeftes van die span is sodanig dat Snyman vir kontinuïteit aangestel is om die Blitsbokke terug te kry op die wenpad.
Nog nuus oor die sport is dat Japan se hoofafrigter, Eddie Jones, sê hy wil ‘n nuwe spelstyl skep wat avontuurlik en aanvallend is. Die 64-jarige Jones rig die Brave Blossoms die tweede keer af nadat hy verlede jaar bande met Australië gebreek het, nadat die Wallabies die eerste keer in die geskiedenis nie die Wêreldbeker-uitklopfase kon haal nie. Jones se eerste wedstryd in beheer van Japan is in Junie teen Engeland, wat hy van 2015 tot 2022 afgerig het. Hy sê hy wil nuwe Japanse talent ontgin:
# Tennis: Die vierde-gekeurde Daniil Medvedev is die tweede agtereenvolgende jaar deur na die kwarteindronde van die Indian Wells-ope. Die Rus het Grigor Dimitrov van Bulgarye in skoon stelle verslaan. Casper Ruud van Noorweë het die Fransman Gael Monfils in ‘n marathon-stryd geklop. In die vroue-afdeling het Emma Navarro van die VSA die grootste oorwinning van haar loopbaan behaal toe sy die wêreld nommer twee, Aryna Sabalenka van Belarus, uitgeskakel het om die kwarteindronde te haal. Navarro sê om die heersende Australiese Ope-kampioen te klop, voel onwerklik:
# Gholf: Kylie Henry is die vroeë voorloper aan die begin van die tweede ronde van die Vroue-ope op Royal Cape in Kaapstad. Sy is een van net nege spelers wat die eerste ronde onder baansyfer voltooi het nadat die berugte Kaapse wind ontwrigting gesaai het. Die Skotse speler het met ‘n vyf-onder-syfer, 69 geëindig, gevolg deur die Suid-Afrikaners Shawnelle de Lange en Lora Assad, op onderskeidelik drie- en twee-onder baansyfer. Henry sê sy is tevrede met haar algehele spel:
# En, nuus oor die Olimpiese Spele: Rusland se minister van Sport glo sy regering moenie die Spele in Parys boikot nie, al mag die land se atlete nie onder hul eie vlag deelneem nie. Oleg Matytsin het die eerste keer reageer op die Internasionale Olimpiese Komitee se besluit dat Russe slegs as neutrale atlete aan individuele items mag deelneem weens die land se inval in Oekraïne. Russiese spansport sal nie aanvaar word nie. Matytsin sê Russiese atlete moet toegelaat word om deel te neem, en Moskou moet die moontlikheid van ‘n dialoog oophou.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….