Nuus 12:00
BULLETIN 14 Maart 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Patricia de Lille is GOOD se premierskandidaat vir die Wes-Kaap
# Die Suid-Afrikaanse Erfenishulpbronagentskap hou vol Madiba se items verdien spesiale beskerming
# En, rugby: Eddie Jones oorweeg ‘n nuwe spelstyl vir Japan
# Die Good Party het sy leier, Patricia de Lille, as premierskandidaat vir die Wes-Kaap aangewys. Die party se woordvoerder, Janke Tolmay, sê Tannie Pat, soos sy bekendstaan, is vir die kiesers ‘n beproefde en geslaagde leier met onvergelykbare ondervinding wat nodig is om die provinsie se uitdagings te pak. Sy sê kiesers kan verseker wees De Lille sal nie die stryd laat vaar voordat sy haar doelwit bereik het nie:
# Die Suid-Afrikaanse Erfenishulpbronagentskap wil appelleer teen die klassifikasie van items wat verbind word met oudpresident Nelson Mandela, wat sy dogter wil opveil. Ondanks ‘n bevel van die Hooggeregshof in Gauteng wat die interdik teen 29 items verwerp het, betoog die agentskap dit is erfenisvoorwerpe. Advokate het tydens ‘n verhoor uiteenlopende sienings voorgelê oor die vertolking van die Wet op Nasionale Erfenishulpbronne. Uitspraak is voorbehou.
# Die landdros in die korrupsiesaak teen Eskom se gewese groeps-uitvoerende hoof, Matshela Koko, en sewe mede-beskuldigdes het na bewering versuim om sy sakebedrywighede met die kragvoorsiener te verklaar. Die saak is verlede jaar van die rol geskrap. News24 berig die waarnemende landdros, Stanley Jacobs, is ‘n direkteur en aandeelhouer van BEP African Consulting. Eskom het dié maatskappy skynbaar 14,3-miljoen rand betaal terwyl Koko en sy medebeskuldigde, Frans Sithole, senior poste by die kragvoorsiener beklee het. Jacobs sê dit was nie nodig om iets te verklaar nie, omdat die maatskappy dormant was.
# Rugby: Japan se hoofafrigter, Eddie Jones, sê hy wil ‘n nuwe spelstyl skep wat avontuurlik en aanvallend is. Die 64-jarige Jones rig die Brave Blossoms die tweede keer af nadat hy verlede jaar bande met Australië gebreek het, nadat die Wallabies die eerste keer in die geskiedenis nie die Wêreldbeker-uitklopfase kon haal nie. Jones se eerste wedstryd in beheer van Japan is in Junie teen Engeland, wat hy van 2015 tot 2022 afgerig het. Hy sê hy wil nuwe Japanse talent ontgin:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-64-sent teen die dollar, 20-rand-39-sent teen die euro en 23-rand-89-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 73-duisend-212-dollar-81-sent. Die prys van goud is twee-duisend-168-dollar-23-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 84-dollar-29-sent per vat.
# En, ‘n Britse gidshond-opleidingsliefdadigheid vra mense met uitsonderlike gesigskenmerke om te help om jong honde daaraan gewoond te maak. Navorsing toon amper twee-derdes van honde reageer met vrees of verwarring op kenmerke waaraan hulle nie blootgestel was nie. Sky News berig die organisasie vra vrywilligers met baarde, snorre, helderkleurige Mohawk-haarstyle, gesigsdeurborings en -tatoeëermerke om na vore te kom. Hulle wil jong hondjies ook blootstel aan aspekte van die daaglikse lewe, soos babas en fietse.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….