Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 14 Maart 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die minister van Openbare Ondernemings, Pravin Gordhan het aangekondig die SAL se ooreenkoms met die strategiese aandelevennoot Takatso is beëindig. Dit word beskou as ‘n terugslag vir een van president Cyril Ramaphosa se grootste privatiseringsaksies.
GAUTENG:
# Beeld:
Berig, die watervoorsieningskrisis in Johannesburg is nog nie opgelos nie. Joburg Water gaan nou toevoer van een pompstasie na ‘n volgende laat vloei om die stelsel vinniger te laat herstel.
Dan skryf die koerant, ‘n gemeentelid is in hegtenis geneem in verband met die moord op drie monikke van die Koptiese Kerk in Cullinan.
En laastens is daar nuus oor die 16-jarige Dewan van Helsdingen van die Helpmekaar Kollege in Johannesburg, wat sy eerste solovlug in ‘n helikopter voltooi het.
# The Star en Pretoria News:
Skryf, die Suid-Gautengse Hooggeregshof, wat in Palm Ridge sit, het Sifiso Naseeb Mkhwanazi skuldig bevind aan die moord op en verkragting van ses sekswerkers in Johannesburg.
En berig, volgens kenners moes die SAL-transaksie nooit oorweeg gewees het nie.
# Sowetan:
Berig, oudpresident Thabo Mbeki sê, oudpresident Jacob Zuma het, in sy pogings om die demokrasie in die land af te breek, ook die Suid-Afrikaanse Inkomstediens vernietig.
# En The Citizen:
Skryf, kenners meen plaaslike diensleweringskwessies gaan ‘n deurslaggewende rol speel in vanjaar se verkiesing.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig eerstens oor die negatiewe uitwerking van die hittegolf op boere in die Vrystaat. Talle gewasse kan nie die hitte-aanslag oorleef nie en die oesopbrengste gaan nou na verwagting heelwat laer wees.
En tweedens skryf die koerant oor die Joslin Smith-saak. Volgens bronne was Joslin se ma, Kelly, na bewering meer bekommerd om nie van haar kêrel en medebeskuldigde, Jacquin (Boeta) Appollis geskei te word nie, as om haar oor haar vermiste kind te bekommer.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Lei met die Joslin Smith-saak. Die koerant berig, daar was weer geweldige reaksie buite die hof toe die beskuldigdes gister verskyn het. Die aanklagte teen een van die vier beskuldigdes is intussen teruggetrek.
En tweedens skryf die koerant, kort nadat hulle, hul pa, Pieter Plaatjies se 60ste verjaarsdag gevier het, is Marisa en Henrico Plaatjies dood in ‘n motorongeluk buite Oudtshoorn.
# En Cape Times:
Skryf, die leier van die GOOD Party en minister van Toerisme, Patricia de Lille het haarself verkiesbaar gestel as premier van die Wes-Kaap.
En tweedens berig die koerant oor die redes vir die vrylating van die vierde beskludigde in die Joslin Smith-saak, Pumza Sigaqa.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig, die Valke en die Nasionale Vervolgingsgesag het alle aanklagte van onder meer vervalsing, teen Nelson Mandelabaai se bedryfshoof, Sidima Dyani teruggetrek.
En tweedens skryf die koerant, daar kom al hoe meer ontvoerings in Nelson Mandelabaai voor. In die jongste voorval is die die vrou van ’n vooraanstaande sakeman buite haar huis in Kariega ontvoer.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf, gewelddadige betogings het in Phoenix buite Durban uitgebreek, nadat die gemeenskap vir tien dae reeds sonder krag en water moes klaarkom.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die voorlopige sensussyfers toon dat Namibië se totale bevolking nou op meer as 3,02-miljoen te staan kom. Dit is ‘n toename van 114,4-persent oor die afgelope 32-jaar.
En tweedens is daar nuus oor ’n vasberade jong boer wat met net een bok begin boer het, en toe ‘n hele sakeonderneming opgebou het.