Nuus 06:00
BULLETIN 14 Maart 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Gordhan is oortuig daarvan dat die SAL homself vir die volgende jaar kan onderhou
# Die Stad Ekurhuleni waarsku teen druk op watervoorsiening
# En, ses aanklagte is afgewys in die verkiesingsaak teen Trump en sy medebeskuldigdes
# Die minister van Openbare Ondernemings Pravin Gordhan, sê die regering is oortuig daarvan die Suid-Afrikaanse Lugdiens kan homself vir die volgende jaar tot 18 maande onderhou. Dit volg nadat die voorgestelde transaksie om 51-persent van die regering se aandele van die lugdiens aan Takatso Consortium te verkoop, gekanselleer is. Hy sê dit is deels omdat die SAL se bates nou baie meer werd is as wat dit was tydens die Covid-19-pandemie, toe Takatso as die voorkeurbieër gekies is. Gordhan sê daar is ander maniere waarop onmiddellike finansiering vir die lugdiens verkry kan word:
Takatso Consortium sê intussen die uitgerekte onderhandelinge met die regering is gekenmerk deur onaanvaarbare vlakke van risiko en onsekerheid. Ná byna drie jaar is die regering se samesprekings met Takatso as ’n privaat vennoot in die lugdiens volgens ’n onderlinge ooreenkoms afgelas. Die voorsitter van Takatso, Tshepo Mahloele sê hulle was vasbeslote om ‘n sterk Afrika-lugredery te bou wat wêreldwyd sou kon meeding, en wat finansieel volhoubaar én kommersieel lewensvatbaar sou wees:
# Parlementêre werksaamhede is oorskadu deur ‘n geskil oor die EFF-LP Busisiwe Mkhwebane se deelname al dan nie aan onderhoude met kandidate vir die pos as nuwe adjunk-Openbare Beskermer. Die DA sê daar is konflik van belange weens haar verbintenis met twee van die kandidate. Mkhwebane sê egter haar siening sal nie die komitee beïnvloed nie. Die onderhoudproses is nou gestaak vir regsadvies, nadat ‘n lid van die parlement kommer uitgespreek het oor Mkhwebane se moontlike partydigheid.
# Die Stad Ekurhuleni vra inwoners om water spaarsaam te gebruik nadat tegnici gesien het daar is druk op die stelsel weens hoë aanvraag. Die stad se woordvoerder Zweli Dlamini sê tegniese ingryping word gedoen, wat insluit drukbestuur en watervoorsieningsbeperking. Dlamini sê veral hoogliggende gemeenskappe kan lae waterdruk, of geen water ondervind. Die stad verseker voortgesette watervoorsiening en sal watertenkwaens voorsien aan gebiede wat geraak word.
# Die regter in die verkiesingsinmengingsaak teen Donald Trump in Georgia, het sommige van die aanklagte teen die voormalige president en sy medebeskuldigdes van die hand gewys. Regter Scott McAfee het bevind ses aanklagte in die klagstaat wat 41 aanklagte insluit bevat nie genoeg inligting nie. Dit sluit in, aanklagte teen sommige van die beskuldigdes wat na bewering amptenare in Georgia versoek het om hul amps-eed te skend. Die beslissing het betrekking op drie van die 13 aanklagte teen Trump, wat beteken dat hy nou teregstaan op 88 aanklagte uit die vier strafregtelike klagstate in Georgia, New York, Washington en Florida.
# Gholf: Kylie Henry is die vroeë voorloper aan die begin van die tweede ronde van die Vroue-ope op Royal Cape in Kaapstad. Sy is een van net nege spelers wat die eerste ronde onder baansyfer voltooi het nadat die berugte Kaapse wind die veld ontwrig het. Die Skotse speler het met ‘n vyf-onder-syfer, 69 geëindig, gevolg deur die Suid-Afrikaners Shawnelle de Lange en Lora Assad, onderskeidelik op drie- en twee-onder baansyfer. Henry sê sy is tevrede met haar algehele spel:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-58-sent teen die dollar, 20-rand-34-sent teen die euro en 23-rand-78-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 72-duisend-838-dollar-43-sent. Die prys van goud is twee-duisend-173-dollar-40-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 84-dollar-16-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….