Goeie Nuus
BULLETIN 13 Maart
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die Smile-stigting, in samewerking met sy vennote, het altesaam 2,1-miljoen-rand ingesamel om die koste van chirurgiese prosedures vir 22 kinders te dek. Dit is ter ondersteuning van Glimlag-week by die Universitas Akademiese Hospitaal in die Vrystaat, waar rekonstruktiewe chirurgie vir die kinders gedoen sal word. ’n Opvallende geval is dié van die negejarige Arrianna Botha, wat ’n honde-aanval oorleef het. Verlede jaar het sy ‘n kopvel-uitbreidingsoperasie ondergaan. Vandag sal sy haar opvolg-operasie hê, waartydens die weefseluitbreider verwyder en die kopvelflap gestrek sal word om die uitgebreide beskadigde area met hare te bedek.
# Die Universiteit Stellenbosch en die hoëtegnologiemaatskappy Enlightened Isotopes het saamgespan om ‘n protokol te ontwikkel vir die skeiding van die ytterbium-176-isotoop, wat as ‘n radiofarmaseutiese middel in kankerterapie gebruik gaan word. Die navorsingsvennootskap is 8,5-miljoen-rand werd. Rusland en China is tans die wêreld se grootste verskaffers van isotope. Professor Pieter Neethling van Universiteit Stellenbosch sê hulle is baie opgewonde om te kan bydra tot die ontwikkeling van so ‘n hoëtegnologie-isotoop-verrykingsinstelling in Suid-Afrika.
# Die eThekwini-munisipaliteit in KwaZulu-Natal sê hy gaan voort met sy mandaat om ‘n kultuur van entrepeneurskap en vernuwing te bevorder. Dit is in ‘n poging om werk te skep en plaaslike ekonomiese ontwikkeling ‘n hupstoot te gee. Plaaslike klein-, medium- en mikro-ondernemings word aangemoedig om voor 5 April in te skryf vir die 2024 Lions Den sakeplan-kompetisie. Dit fokus op die bevordering van goeie sake-idees en praktyk, asook volhoubare entrepreneurskap en vernuwing. Deelnemers staan ‘n kans om voordeel te trek uit opwindende sake-ontwikkelingspryse.
# Die African Reclaimers Organisation het sy eie sorteersentrum vir herwinbare materiaal in Selby, Johannesburg, ingerig. Dit kom ná byna drie jaar se gesprekke met die Stad Johannesburg oor die integrasie van informele afvalherwinners. Die organisasie se Herwinning met Herwinners-program versamel afval in byna 100 woongebiede regdeur die stad. Die stad se afvalbestuurders, Pikitup, sê hulle kyk hoe hulle die herwinners kan bystaan met ‘n plek om te sorteer, maar begrotingsbeperkings is ‘n uitdaging.
# En, die stigter van Save a Fishie, Zoë Prinsloo, verteenwoordig Suid-Afrika tans op die internasionale Helen Storrow-seminaar in Switserland. Dit is ‘n leierskapsprogram vir die jeug wat fokus op omgewingsvolhoubare projekte vir hul gemeenskappe. Save a Fishie is ‘n veldtog wat bewusmaking skep oor mariene bewaring en die gevare van plastiekbesoedeling. Prinsloo sê danksy dié program het sy meer as 260 strandskoonmaak-veldtogte gereël, meer as 111 strande regdeur Suid-Afrika besoek en meer as 20 ton rommel bymekaargemaak.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….