Nuus 14:00
BULLETIN 13 Maart 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Aanklagte word laat vaar teen die beweerde sangoma in die Joslin Smith-verdwyningsaak
# ActionSA versoek Suid-Afrikaners om anders te stem in die komende verkiesing
# En migrante wat asiel in Brittanje geweier word, sal duisende pond aangebied word om na Rwanda te gaan
# Drie beskuldigdes in die Joslin Smith-verdwyningsaak het hul aansoek om borgtog laat vaar in die Landdroshof in Vredenburg. Aanklagte is teruggetrek teen die vierde beskuldigde, die vermeende sangoma Phumza Sigaqa, nadat geen bewyse van haar beweerde betrokkenheid gevind kon word nie. Joslin se ma, Racquel “Kelly” Smith, haar kêrel, Jacquin “Boeta” Appollis, en Steveno van Rhyn word aangekla van mensehandel en ontvoering na beweerde bekentenisse dat hulle Joslin vir 20-duisend-rand verkoop het vir muti. Die saak is tot 13 Mei uitgestel vir verdere ondersoek en om selfoondata te bekom.
# ActionSA vra alle Suid-Afrikaners om anders te stem in die komende nasionale en provinsiale verkiesing. Die party sê om te stem vir diegene wat reeds in die Nasionale Vergadering verteenwoordig is, sal bloot lei tot nog meer van wat Suid-Afrika reeds moes verduur. Die Parlement het bykomende befondsing vir politieke partye ter waarde van 1,5-miljard-rand goedgekeur. Dit sal vir kiesafdelingswerk en veldtogte wees. Alan Beesley van ActionSA sê Suid-Afrikaners moes die belediging verduur en aanskou hoe onkundige LP’s baklei oor watter deel van die 1,5-miljard-rand elkeen moes kry:
# Die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing en die Nasionale Tesourie, in samewerking met die Britse Departement Nasionale Statistieke, het ‘n samewerkingsooreenkoms gesluit om die benutting van plaaslike data ter ondersteuning van plaaslike ekonomieë te ondersoek. Dit het ten doel om kennis uit te ruil en ekonomiese prestasie in Suid-Afrikaanse stede te bevorder. Besprekings sluit in die identifisering van strategiese doelwitte en die deel van beste praktyke, vir die lewering van insig oor plaaslike data, insluitend administratiewe en private sektor databronne.
Intussen sal migrante wat asiel in die Verenigde Koninkryk geweier word, duisende pond aangebied word om na Rwanda te gaan. Volgens The Times is die nuwe hervestigingskema ontwikkel om migrante te verwyder wat geen wettige reg het om die VK te bly nie, maar wat nie na hulle tuisland kan terugkeer nie. Dit is gemik op individue wat geen uitstaande asiel-eis het nie en vinnig kan hervestig. Die Departement van Binnelandse Sake het nie die skema bevestig nie, maar ondersoek blykbaar vrywillige hervestiging in Rwanda.
# Die Universiteit van Johannesburg en die Franse ambassade bied môre ‘n sportgeleentheid aan op die Soweto-kampus. Die geleentheid vier 30 jaar van demokrasie en die 2024 Olimpiese en Paralimpiese Spele in Parys. Nomsa Mahlangu van die universiteit sê die geleentheid se tema, “Aflos rondom die Wêred – Land van Spele 2024”, beklemtoon die verband tussen sport en demokrasie. Sy sê besprekings sal aangebied word oor die demokratisering van sport, veral vir mense met gestremdhede en vroue:
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-66-sent teen die dollar, 20-rand-38-sent teen die euro en 23-rand-84-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 73-duisend-517-dollar-12-sent. Die prys van goud is twee-duisend-157-dollar-64-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-64-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….