Nuus 06:00
BULLETIN 13 Maart 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Adjunkpresident Mashatile sê die regering is nie spyt oor sy Wêreldhofsaak teen Israel nie
# Eskom stel fase 2- en 3-beurtkrag in tot verdere kennisgewing
# En, nóg ‘n Boeing is betrokke by ’n skok-voorval
# Adjunkpresident Paul Mashatile sê die regering is nie spyt dat hy die eerste land was wat ‘n regsgeding teen Israel by die Wêreldhof aanhangig gemaak het nie. In Januarie het die hof Suid-Afrika se versoek vir voorlopige maatreëls om ‘n moontlike volksmoord in Gaza te stuit toegestaan, maar Israel het sy aanvalle voortgesit. Verlede week het die land die hof dringend gevra om bykomende noodmaatreëls teen Israel af te dwing om ‘n hongersnood in die Gaza-strook te voorkom. Mashatile het met die beantwoording van vrae in die Nasionale Raad van Provinsies gesê Suid-Afrika keur nie volksmoord goed nie.
# Die minister van Elektrisiteit, Kgosientsho Ramokgopa, sê hy is vol vertroue dat sy ministerie as gevolg van ‘n verbetering in elektrisiteitsvoorsiening teen die einde van die jaar nie meer nodig sal wees nie. Hy is verlede jaar aangestel om te help om die land se 15-jaar oue kragkrisis op te los. Ramokgopa het op ‘n infrastruktuurkonferensie wat deur Ninety One in Johannesburg aangebied is, gepraat oor die dringende behoefte aan die bou van transmissielyne om die duisende megawatt uit nuwe opwekkingsvermoë vir die netwerk te ontsluit:
Eskom het intussen fase 2-beurtkrag gedurende die dag ingestel, van vyfuur in die oggend tot vieruur in die middag, en fase 3-beurtkrag, van vieruur in die middag tot vyfuur die volgende oggend. Dié patroon sal voortduur tot verdere kennisgewing. Die besluit volg ná die verlies van drie opwekkingseenhede én ‘n vertraging in met die herstel van drie ander. Eskom sê sy kragstasiebestuurders werk onverpoos om bykomende opwekkingskapasiteit te herwin, en meer inligting sal bekend gemaak word indien die situasie beduidend verander.
# Die burgemeester van Tshwane het ‘n streng waarskuwing uitgereik oor onwettige elektrisiteitsverbindings. Hy sê dis ‘n misdaad en oortreders sal vervolg word. Dit volg ná ‘n suksesvolle #TshwaneYaTima-operasie gister wat ondernemings en woongebiede in die voorstede teiken wat die stad miljoene skuld. Een gastehuis in Hatfield skuld die stad 970-duisend-rand en het boonop ‘n onwettige verbinding gehad. Brink het gewaarsku alle debiteure, insluitend ondernemings en inwoners, sal nagevolg word en moet hul munisipale rekeninge vereffen om ontkoppeling te voorkom:
# Nieu-Seeland se Kommissie vir die Ondersoek van Vervoerongelukke wil beslag lê op die stuurkajuit-stemopnemer van ‘n Boeing 787 Dreamliner van LATAM Airlines, nadat meer as 50 mense Maandag in ‘n voorval beseer is. Die vliegtuig het tydens ‘n vlug tussen Australië en Nieu-Seeland grond toe getuimel toe die vlieëniers blykbaar beheer verloor het, maar die vliegtuig het uiteindelik veilig geland. Dit is die jongste voorval waarby dié Amerikaanse vervaardiger betrek word, nadat ’n deel van ’n Alaska Airlines 737 Max se deur in Januarie, kort ná opstyging in die VSA, afgewaai het.
# Rugby: Die Springbok-hoofafrigter, Rassie Erasmus, het sy nuwe bestuurspan gefinaliseer met die aanstelling van die voormalige Munster-speler, Paddy Sullivan as prestasie-ontleder. Hy kry ’n permanente pos nadat hy ’n konsultant was vir Suid-Afrika, tydens verlede jaar se suksesvolle Wêreldbekertoernooi in Frankryk. Sullivan sluit hom by nóg twéé nuwe lede aan – die voormalige All Black-losskakel Tony Brown as aanvalsafrigter, en die voormalige Ierse toetsspeler Jerry Flannery as verdedigingsafrigter. Nienaber sê Brown en Flannery behoort die Bokke te help om hul teenstanders altyd een vóór te bly.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-68-sent teen die dollar, 20-rand-41-sent teen die euro en 23-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-868-dollar-33-sent. Die prys van goud is twee-duisend-158-dollar-11-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-35-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….