Nuus 17:00
BULLETIN 12 Maart 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa vra voortgesette bilaterale bande met Ghana
# Fase 3-beurtkrag is hervat
# En, die Kaapstadse Internasionale Jazzfees keer terug
# President Cyril Ramaphosa het Ghana se president, Nana Addo Dankwa Akufo-Addo, verwelkom as medevoorsitter van die tweede sitting van die Suid-Afrika-Ghana bi-basionale kommissie. Die doel van die vergadering is om die verhouding tussen die twee lande te versterk. Ramaphosa sê hulle verhouding het oor die jare aansienlik gegroei, en die kommissie beoog om die vennootskap verder te versterk. Ramaphosa het ook die behoefte aan ‘n vennootskap en samewerking beklemtoon:
# Die VryheidsFront Plus waarsku oor ‘n ernstige krisis in die speurdiens, met meer as 1,8 miljoen onopgeloste sake weens gebrekkige dossiere sedert 2018. Dit is onthul in ‘n parlementêre vraag aan die minister van Justisie en Korrektiewe Dienste, Ronald Lamola. Volgens die VF Plus word speurwerk ook belemmer deur die verlies aan agt-duisend-400 speurders sedert 2016, en ‘n gebrek aan hulpbronne, soos voertuie. Die partyleier, Pieter Groenewald, sê die krisis word weerspieël in die tweede hoogste moordsyfer ter wêreld:
# Eskom het aangekondig Fase 3-beurtkrag is vanmiddag 4-uur ingestel tot môreoggend 5-uur weens die verlies van drie opwekkingseenhede en ‘n verdere drie eenhede wat nog nie herstel is nie. Hierna sal fase 2-beurtkrag daagliks tot 4-uur ingestel word, waarna dit tot verdere kennisgewing na fase 3 sal terugskakel. Eskom sê die afwisselende patrone is daarop gemik om kragvoorsienings-uitdagings beter te bestuur.
# Rugby: Die Springbokke kry dalk ‘n nuwe kaptein. Die hoofafrigter, Rassie Erasmus, sê hoewel Siya Kolisi uitstekende rugby vir Racing 92 in Frankryk speel en vir vanjaar se toetse oorweeg sal word, sal hy van die ouer spelers uitfaseer in die opbou na die volgende Wêreldbekertoernooi. Agtien van die Bokke wat verlede jaar in Frankryk die Wêreldbeker gewen het, is ouer as 30, met Kolisi wat nou 32 is. Erasmus sê hy verkies ook dat sy kaptein in Suid-Afrika speel om beter interaksie moontlik te maak.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-68-sent teen die dollar, 20-rand-39-sent teen die euro en 23-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 72-duisend-269-dollar-34-sent. Die prys van goud is twee-duisend-163-dollar-70-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-5-sent per vat.
# En, om mee af te sluit: Die Kaapstadse Internasionale Jazzfees keer op 3 en 4 Mei vanjaar terug na die Kaapstadse Internasionale Konvensiesentrum ná ‘n onderbreking van vier jaar. Vanjaar se fees beloof ‘n wye verskeidenheid van jong en gesoute kunstenaars, om ‘n verskeidenheid gehore te lok met bekende name, insluitend Zoë Modiga en Mandisi Dyantyis. Die fees se verhoë, wat voorheen Kippies, Moses Molelekwa en Rosies genoem is, sal nou bekend staan as Sapphire, Ruby en Emerald, met die toevoeging van ‘n buitelugverhoog genaamd Topaz.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….