Nuus 14:00
BULLETIN 12 Maart 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA sê die Presidensie laat geskorste DG’s toe om by die huis te sit
# Numsa staak by die Padongelukkefonds om die uitvoerende hoof se verwydering te eis
# En, Suid-Afrikaners verdien nou gemiddeld wat hulle in 2006 verdien het
# Die DA sê die presidensie het vyf geskorste Direkteurs-generaal toegelaat om by die huis te sit teen ‘n reuse koste vir die Suid-Afrikaanse belastingbetaler, ter waarde van 10,5-miljoen-rand. Die DA-lid, Mimmy Gondwe, sê die Presidensie het dit onthul op ‘n skriftelike Parlementêre vraag oor die algehele getal DG’s wat die afgelope drie boekjare geskors is met volle betaling:
# Die metaalwerkersvakbond Numsa sê hy gaan Donderdag alle kantore van die Padongelukkefonds sluit. Numsa beplan om buite die Nasionale Departement van Vervoer se kantoor in Pretoria te betoog om die uitvoerende hoof, Collins Letsoalo, se verwydering te eis. Die vakbond se woordvoerder, Phakamile Hlubi-Majola, sê Letsoalo het man-alleen die fonds verwoes en hy dink niemand gaan hom aanspreeklik hou vir sy skokkende gedrag nie:
# Die Amerikaanse tesourie het sanksies ingestel teen 16 individue en instellings in die Horing van Afrika en die Midde-Ooste, wat hulle beskuldig van geldwassery vir die Al-Sjabaab Islamitiese militantegroep. Die tesourie sê die uitgebreide sakenetwerk is deel van ‘n internasionale fondsinsamelings- en geldwassery-web vir die Al-Kaïda-verwante groep wat aktief is in Somalië. Die geteikende instellings sluit in die Dubai-gebaseerde finasieël-tegnologiese maatskappy Haleel Commodities LLC, met takke en filiale in Kenia, Somalië, Uganda en Ciprus. Amerika het ook sanksies ingestel teen ’n Keniaanse busmaatskappy wat Al-Sjabaab se logistiek ondersteun het.
# Motorsport: Die voormalige Formule Een-jaer, Felipe Massa, het ‘n regsgeding aanhangig gemaak oor die uitslag van ‘n Grand Prix-ren in 2008, wat die Britse jaer Lewis Hamilton gehelp het om die wêreldkampioenskap voor sy neus weg te raap. Nelson Piquet Junior het later erken sy Renault-span het hom beveel om doelbewus ‘n ongeluk in Singapoer te veroorsaak, wat daartoe gelei het dat Massa, wat in sy Ferrari voorr was, 13de geëindig het. Hamilton het daardie seisoen net een punt voor Massa afgesluit. Die voormalige uitvoerende hoof, Bernie Ecclestone, het verlede jaar erken F1-hoofde was bewus van die toesmeerdery.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-58-sent teen die dollar, 20-rand-32-sent teen die euro en 23-rand-77-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-748-dollar-31-sent. Die prys van goud is twee-duisend-176-dollar-48-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-80-sent per vat.
# En, om mee af te sluit: Suid-Afrikaners verdien nou gemiddeld wat hulle in 2006 verdien het, met inagneming van inflasie, te wyte aan die land se ekonomiese afswaai sedert 2013. Met die afname in die bruto binnelandse produk per capita, dring Business Leadership South Africa se uitvoerende hoof, Busi Mavuso, aan op dringende ingryping om die neiging te stuit en om te keer. Sy benadruk infrastruktuurmislukkings en logistieke uitdagings is sleutelhindernisse vir groei, en beklemtoon die behoefte aan samewerking tussen die regering en die sakesektor om die kwessies aan te spreek en ekonomiese herstel te bespoedig.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….