Nuus 09:00
BULLETIN 12 Maart 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Departement van Basiese Onderwys is bekommerd oor misleidende inligting wat oor die Bela-wetsontwerp versprei word
# Die VF Plus sê die watertekort in dele van Gauteng veroorsaak gesondheidsprobleme
# En, ‘n intelligensieverslag onthul dat China kan inmeng in die Amerikaanse verkiesing in November
# Die departement van Basiese Onderwys sê bewerings dat die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwys verwerp is, is ‘n desperate poging om broodnodige hervorming in dié sektor te vertraag. Die volg na die DA beweer het ouers in Gauteng het die wetsontwerp na openbare verhore verwerp en sê hulle is bekommerd oor die uitwerking van die Bela-wet. Die departement se woordvoerder, Elijah Mhlanga, sê die menings van diegene wat die sittings bygewoon het, verteenwoordig nie die hele land nie:
# Die Staatsdienskommissie sê hy het van die eerste tot die derde kwartaal van die 2023/2024-boekjaar meer as ‘n duisend klagtes van beweerde korrupsie by staatsdepartemente ontvang. Sowat 900 van die klagtes was by openbare instellings, en minder by nasionale departemente. Gauteng, die Wes-Kaap en KwaZulu-Natal het die meeste klagtes van fluitjieblasers ontvang. Die kommissie sê al is die meeste gevalle afgehandel, kan onnodige vertragings ondersoeke laat misluk.
# Die Vryheidsfront Plus in Gauteng sê sommige inwoners het maagaandoenings weens die watertekorte wat sommige dele van Gauteng teister. Dit sluit die Mogale City-munisipaliteit aan die Wes-Rand in. Skade aan City Power se kragstelsel het Rand Water se Eikenhof-pompstasie buite aksie gelaat. ʼn VF Plus-woordvoerder, Amanda de Lange, sê baie bejaarde mense wat na hulleself moet omsien, het nie vervoer om by die naaste water-tenkwa uit te kom nie:
# ʼn Amerikaanse intelligensieverslag berig China is besig om sy ondergrondse beïnvloeding te versterk en kan moontlik probeer om vanjaar se verkiesing te beïnvloed. Talle ondersoeke ná die 2016-verkiesingswedloop het daarop gedui dat Rusland ʼn veldtog bestuur het om die destydse presidentskandidaat, Donald Trump, te bevoordeel. Intelligensie-beamptes sê vier jaar later het Rusland, China en Iran probeer om die 2020-wedloop te beïnvloed. Die verslag sê China kan in November by die verkiesing inmeng om kritici van dié land se aandag weg te lei na Amerika se maatskaplike verdeeldheid.
# Sokker: Die Engelse Premierliga het ingestem dat klubs ‘n nuwe finansiële stelsel vir die kompetisie instel wat die omstrede winsgewendheids- en volhoubaarheidsreëls vervang. Die stelsel sal in ooreenstemming wees met die UEFA Finansiële Volhoubaarheidsregulasies wat van 2025-2026 die besteding op oorplasingsfooie en spelersvergoeding tot 70-persent van ‘n klub se inkomste beperk. Die nuwe reëls sal nie die voortgesette sake oor Everton, Nottingham Forest en Manchester City raak nie, wat steeds volgens die bestaande finansiële modelle beoordeel sal word.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-69-sent teen die dollar, 20-rand-44-sent teen die euro en 23-rand-95-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-871-dollar-68-sent. Die prys van goud is twee-duisend-178-dollar-72-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-42-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….