Nuus 07:00
BULLETIN 12 Maart 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die OVK neem met kommer kennis van die DA se brief waarin hy ‘n beroep doen op internasionale waarnemersteun en daar mag beurtkrag op verkiesingsdag wees
# Die Pluimveevereniging bevraagteken die kortings op pluimvee-invoere
# En die VN-hoof doen ‘n beroep op die neerlê van wapens in Gaza tydens Ramadan
# Die Onafhanklike Verkiesingskommissie sê hy neem kennis van die DA se brief aan Amerika en ander lande, insluitend die Europese Unie. Die amptelike opposisieparty het die lande gevra om hulpbronne te verskaf vir onafhanklike plaaslike waarnemers in aanloop tot die verkiesing op 29 Mei. Die OVK se uitvoerende hoof, Sy Mamabolo, sê die kommissie glo verkiesings moet waargeneem word, maar die DA se versoek is gerig aan die uitvoerende gesag in ander lande en dis nie hoe die waarnemingsproses werk nie:
Die OVK sê voorts ‘n taakspan is saamgestel om ‘n plan uit te werk om moontlike beurtkrag op verkiesingsdag te hanteer. Beurtkrag oorheers die manifeste van politieke partye, met almal wat beweer hulle het die oplossing om die land se energiekrisis reg te stel. Mamabolo sê die kommissie kan nie met sekerheid sê dat daar nie beurtkrag op verkiesingsdag sal wees nie, maar planne word beraam om minimum ontwrigtings te verseker:
# Die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging het kommer uitgespreek oor die Internasionale Handelskommissie se aanbeveling van kortings vir bevrore pluimvee-invoere om marktekorte aan te vul. Die algemene bestuurder van die vereniging, Izaak Breitenbach, beskou die kortings as onnodig en ongeregverdig, en gee die versekering van voldoende pluimveevoorrade. Breitenbach sê die vereniging staan die kortings teen, weens moontlike skade aan die plaaslike pluimveebedryf, en veral kleinskaalse boere wat van die voëlgriep-uitbreking herstel.
# Nog ‘n raadsvergadering word vandag gehou om die mosie van wantroue teen Ekurhuleni se burgemeester, Sivuyile Ngodwana, te debatteer. Die raadsvergadering op 29 Februarie moes verdaag word nadat ʼn fisiese onderonsie tussen EFF- en ANC-raadslede uitgebreek het. ActionSA in die metro sê opposisiepartye in die raad het die ANC se ondersteuning om Ngodwana wat die African Independent Congress verteenwoordig, vandag uit die amp te verwyder. Dit sal die derde poging wees om hom uit die kussings te lig.
# Die Verenigde Nasies se sekretaris-generaal, António Guterres, doen ʼn beroep op Israel en Hamas om die Islamitiese heilige maand van Ramadan te eerbiedig deur wapens neer te lê en alle struikelblokke om hulp te verleen uit die weg te ruim. Die hoop op ʼn skietstilstand van 40 dae teen die begin van Ramadan vervaag, maar bemiddelaars is vol vertroue ʼn ooreenkoms kan binnekort bereik word. Guterres sê die ongekende sterftes onder burgerlikes in Israel en Gaza is onaanvaarbaar en kan nie voortgaan nie:
# Tennis: Die jong Amerikaner, Ben Shelton, sal môre Jannik Sinner se 17 agtereenvolgende oorwinnings probeer stuit wanneer hulle in die laaste 16 van die Indian Wells Ope in die VSA kragte meet. Die Italianer lyk op die oomblik onstuitbaar en het sy Australiese Ope-titel opgevolg met ‘n sege by die Rotterdam Ope in Nederland. Sinner is derde gekeur en Shelton, 16de. Die 32ste gekeurde Tsjeggiese speler, Jiri Lehecka, speel volgende teen Stefanos Tsitsipas van Griekeland nadat hy die vyfde gekeurde Rus, Andrey Rublev, in die vorige ronde uitgeskakel het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-69-sent teen die dollar, 20-rand-44-sent teen die euro en 23-rand-96-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 72-duisend-263-dollar-29-sent. Die prys van goud is twee-duisend-179-dollar-85-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-39-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….