Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 12 Maart 2024:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig ’n voorverkiesingsopname deur die Johannesburgse dinkskrum, die Brenthurst-stigting, toon die ANC se verkiesingsteun kan tot 39-persent daal met ‘n stempersentasie van 66-persent.
GAUTENG:
# Beeld:
Lei met die waterkrisis in Randburg. Die gebied is reeds nege dae sonder water en daar is geen aanduiding wanneer die toevoer herstel sal word nie. Johannesburg Water weet skynbaar ook nie wat die oorsaak van die probleem is nie.
Dan skryf die koerant oor die puik prestasie van die Suid-Afrikaanse renjaer Brad Binder by die MotoGP in Katar toe hy tweede geëindig het.
En laastens is daar nuus dat die man wat Saterdag in Hartbeespoortdam verdrink het, se liggaam gevind is.
# The Star en Pretoria News:
Skryf Jacob Zuma se MK-party gaan ‘n belangrike rol speel in die vorming van koalisies ná die verkiesing.
En berig ook oor Randburg se waterkrisis.
# Sowetan:
Berig nadat ‘n pa gevonis is vir die verkragting van sy elf maande oue dogter, beskuldig die familie nou die kind se ma dat sy bygedra het tot die voorval.
# En The Citizen:
Lei met: “WATER, POWER NEAR COLLAPSE”. Die koerant skryf die huidige waterkrisis in Randburg is maar net die begin van Johannesburg se probleme. Volgens kenners is die kragnetwerk ook onder druk.
VRYSTAAT:
# Volksblad in Bloemfontein:
Berig eerstens ‘n afgetrede luitenant-kolonel van die Weermag, die 73-jarige Jimmy Nieuwoudt van Bloemfontein is Sondag tydens die Kaapstad-fietswedren aan ‘n hartaanval dood.
En tweedens het die koerant nuus oor die 97-jarige Marie Fick van Bloemfontein wat die 1,1-kilometer foefieslaaid by Mosselbaai saam met ‘n gids, Jimmy Siphenathi voltooi het.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig die inwoners van Langebaan is besorgd oor hul veiligheid nadat die 61-jarige Estelle Eksteen vermoor is. Haar liggaam is met veelvuldige steekwonde by haar huis gevind.
En tweedens skryf die koerant ‘n veldgids, David Kandela wat by die Gondwana-wildreservaat naby Herbertsdale gewerk het, is deur ‘n olifant doodgetrap. Hy het glo probeer om olifante naby die restaurant te verjaag toe die voorval plaasgevind het.
# En Cape Times:
Skryf die Onafhanklike Verkiesingskommissie het die bron van die lekkasie van kandidatelyste geïdentifiseer.
En berig dit blyk nie of daar ‘n wapenstilstand in Gaza gaan wees in die maand van Ramadaan nie.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die voorsitter van die ANC-vroueliga in die Oos-Kaap, Ntandokazi Capa is na wat berig word boaan die lys van diegene wat ná die verkiesing van 29 Mei by die Bisho-wetgewer gaan aansluit.
En skryf die sierlike koperinlegsels by die agterdeur van die SA Inkomstediens se gebou in Gqeberha is gesteel.
KWAZULU-NATAL:
# Daily News in Durban:
Skryf die huidige premier van KwaZulu-Natal, Nomusa Dube-Ncube is nie onder die top-tien kandidate op die ANC se lys in die provinsie nie. Haar naam verskyn 31ste.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die werknemer van Bank Windhoek wat na bewering twee-miljoen-rand by sy werkgewer gesteel het, Nico Rebebe is steeds in die hospitaal in aanhouding en is nog nie amptelik van enige oortredings aangekla nie.
En skryf tweedens oor die werk van Astrid O’Callaghan wat vasbeslote is om die bewusmaking oor geestesgesondheid in Namibië te bevorder. Sy is op soek na Namibiese maatskappye om betrokke te raak by die Elephant in the Room-veldtog.