Nuus 06:00
BULLETIN 12 Maart 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die OVK doen regstellende stappe na die uitlek van die kandidatelyste
# China, Rusland en Iran neem deel aan gesamentlike vlootoefeninge
# En rugby: Die Bulle gaan buite die seisoen baie minder spelers werf
# Die Onafhanklike Verkiesingskommissie sê die amptenaar wat na bewering die kandidatelyste van die ANC en uMkhonto we Sizwe Party laat uitlek het, is versoek om ‘n voorlegging in te dien oor hoekom die persoon se dienskontrak nie beëindig moet word nie. Die lyste is die naweek in sosiale media uitgelek. ’n Ondersoek dui daarop dat die uitlekking afkomstig is uit interne stelselgegenereerde verslae binne die kommissie. Die uitvoerende hoof van die OVK, Sy Mamabolo, sê verskeie maatreëls is ná die voorval getref:
# Die Nasionale Tesourie moedig plaaslike regerings aan om kredietbeheer en skuldbestuur te verbeter met regeringskuld aan munisipaliteite wat 22-miljard-rand oorskry. Die minister van Finansies, Enoch Godongwana het onthul nasionale departemente skuld agt-miljard-rand, provinsiale departemente 9,7-miljard-rand, en ander openbare instellings skuld 4,2-miljard-rand vir munisipale dienste. Godongwana raai munisipaliteite aan om dienste te beperk aan departemente wat nie hulle uitstaande skuld binne die aangeduide tydsraamwerk betaal nie. Die Tesourie het maatreëls ingestel om munisipaliteite by te staan met skuldbestuur en invordering om finansiële bestendigheid en doeltreffendheid te verbeter.
# Die burgemeester van Tshwane, Cilliers Brink sê daar was ‘n positiewe reaksie op die stad se beroep vir vennootskappe om dienste in gemeenskappe te verbeter. Die gebiedsopheffingsinisiatief in gemeenskappe, wat verlede jaar van stapel gestuur is, het tot dusver 30 aansoeke gelok, met ses wat voorlopig goedgekeur is. Die Silver Woods-huiseienaarsvereniging – een van die suksesvolle aansoekers – sal 41 straatgloeilampe in die gebied vervang. Brink raai gemeenskappe wat belangstel aan om hulle wyksraadslede te nader om uitdagings in ‘n gestruktureerde proses en onder leiding van die stad aan te pak:
# Die DA in eThekwini vra dat munisipale werkers wat deel is van die voortslepende onwettige staking afgedank word. Werkers verbonde aan die munisipale werkersvakbond, SAMWU staak sedert die 27 Februarie oor salarisverhogings. Die DA sê hy veroordeel bewerings van gekoördineerde pogings om die metro se water- en elektrisiteitsinfrastruktuur te saboteer. Hy voeg by dit is onwettig vir ‘n groep individue om die metro te verhoed om sy verpligtinge na te kom en wetstoepassingsowerhede moet sterk optree in die verband.
# Die vlote van China, Rusland en Iran hou dié week gesamentlike oefeninge in die Golf van Oman. China se ministerie van Verdediging sê die militêre bedrywighede, van gister af tot Vrydag, is gemik op die behoud van streeks-maritieme sekerheid. Oefeninge in die gebied is in Maart verlede jaar tussen dieselfde drie lande gehou. Vanjaar se ronde gesamentlike operasies val saam met stygende spanning in die streek met die oorlog in Gaza en Iran-gesteunde Houthi-rebelle in Jemen wat ‘n reeks aanvalle op skepe in die Rooisee uitgevoer het.
# Rugby: Die uitvoerende hoof van die Bulle, Edgar Rathbone, sê hulle sal vanjaar baie minder spelers buite seisoen werf omdat hulle tevrede is met die span se vordering onder die direkteur van rugby, Jake White. Die Bulle is tans tweede op die punteleer van die Verenigde Rugby-kampioenskap en ook in die uitspeelrondes van die Kampioenebeker. Die unie het na wat berig word verlede jaar heelwat belê in nuwe spelers, en manne met baie ondervinding bygekry soos die Springbok Willie le Roux en haker Akker van der Merwe. Rathbone sê hulle het nou ‘n gevestigde kerngroep.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-69-sent teen die dollar, 20-rand-43-sent teen die euro en 23-rand-95-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 72-duisend-369-dollar-68-sent. Die prys van goud is twee-duisend-180-dollar-98-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-46-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….