Eko-minuut 13:30
BULLETIN 11 Maart 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# Die Suid-Afrikaanse Nasionale Sentrum vir Skoner Produksie sê nywerheidsimbiose kan afvalbestuur doeltreffender maak, en die afhanklikheid van stortingsterreine verminder. Nywerheidsimbiose beteken in wese dat afval van ‘n nywerheidsproses herlei word vir hergebruik deur een of meer maatskappye as nuwe inset vir ‘n ander proses. Victor Manavhela van die sentrum sê die vermindering van kweekhuisgasvrystellings en die oorgang na ‘n bedryf wat minder fossiel-afhanklik is, is uiters noodsaaklik.
# Die Stad Kaapstad se ramprisiko-bestuursentrum sê hy het die afgelope ses maande 451 openbare opleidings- en bewusmakingsvergaderings reg oor die stad afgehandel. Die jongste sluit in gemeenskapsgegronde slypskole oor risikobepalings, klimaatsveranderingsprogramme en noodhulp-opleiding. Die burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekerheid, JP Smith, sê die fokus is op klimaatsverandering en die maatskaplike en ekonomiese uitwerking wat dit het op die wêreldbevolking en -omgewing, plastiekbesoedeling, komposvorming en voedselsekerheid:
# En, die Stad Tshwane se Nooddienste waarsku inwoners die huidige hittegolf sal tot môre voortduur. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens voorspel hoë temperature wat oor die volgende twee dae ‘n maksimum van 37 grade sal bereik. Die metro se woordvoerder, Lindela Mashigo, sê inwoners word versoek om bewus te wees van die nadelige gevolge van langdurige blootstelling aan uiterste warm weersomstandighede:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….