Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 11 Maart 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met motorsport: Die Suid-Afrikaner Brad Binder het tweede geëindig vir die MotoGP-span, Red Bull KTM Factory Racing, in die seisoen se eerste wedren in die Katarse Grand Prix. Die heersende wêreldkampioen, Ducati se Italiaanse bestuurder, Francesco Bagnaia, het in die eerste ronde die voorste plek opgeëis en tot die einde voorgejaag om die wedren te wen. Die Spanjaard Jorge Martin van Pramac Racing was derde. Bagnaia is nou boaan die punteleer met 31 punte, gevolg deur Binder in die tweede plek en Martin derde.
Nog nuus oor die sport is dat die Britse tiener Oliver Bearman sê daar is nie veel wat hy nog kan doen om te bewys hy is gereed vir ‘n voltydse posisie in Formule Een nie. Dit volg op sy droom-debuut in die Saoedi-Arabiese Grand Prix toe hy die siek Ferrari-jaer Carlos Sainz moes vervang, en sewende geëindig het. Max Verstappen en Sergio Perez het in die eerste twee plekke geëindig, gevolg deur Charles Leclerc van Ferrari. Bearman was in vervoering om in sy heel eerste wedren punte aan te teken:
# Tennis: Die verdedigende kampioen, Carlos Alcaraz, is deur na die vierde ronde van Indian Wells. Die Spanjaard het die Kanadees Felix Auger-Aliassime 6-2, 6-3 verslaan, om sy wenlopie in die Amerikaanse toernooi tot agt wedstryde te verleng. Die derde gekeurde Jannik Sinner van Italië het Jan-Lennard Struff van Duitsland 6-3, 6-4 geklop om tot die ronde van 16 deur te dring, terwyl die elfde-gekeurde Stefanos Tsitsipas van Griekeland die Amerikaner Frances Tiafoe in skoon stelle verslaan het. Alcaraz sê hy is op die oomblik regtig gelukkig met sy spelpeil:
# Gholf: Abraham Ancer van Mexiko het die eerste LIV-gholftoernooi in Hongkong in ‘n uitspeelronde gewen. Hy het die laaste ronde met ʼn voorsprong van vyf houe begin, maar ʼn twee-oor-72 het hom teruggeplaas op 13-onder saam met Cameron Smith van Australië en Paul Casey van Engeland. Ancer het hom op die eerste uitspeelputjie reggeruk met ʼn briljante voëltjie om sy eerste LIV-sege te behaal. Hy beskryf sy oorwinning as moeilik, maar spesiaal:
# En, figuurskaats: Die Suid-Afrikaanse Nasionale Figuurskaats-kampioenskap vind van vandag tot Woensdag plaas by The Ice Station by GrandWest in Kaapstad. Die publiek kan van twee-uur vanmiddag tot tien-uur vanaand kort programme geniet van solo-danspatrone en ritmiese dans. Môre is daar nog solo-danse en gesinchroniseerde skaats, wat sal uitloop op die prysoorhandiging vir alle afdelings, behalwe dans. Woensdag eindig die kompetisie met nog figuurskaats. Kaartjies kos vandag en môre 75-rand per persoon, en Woensdag 50-rand.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….