Nuus 08:00
BULLETIN 9 Maart 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Agt verdagtes wat verbind word met motor-blokkering-rooftogte, is in Pretoria aangekeer
# Die Amerikaanse ambassade in Rusland waarsku ‘n aanval deur ‘ekstremiste’ in Moskou is op hande
# En, sokker: Motoriste word gewaarsku teen padsluitings vir die Soweto-derby
# Die polisie in Gauteng het agt verdagtes aangekeer wat na bewering deel is van ‘n sindikaat wat verantwoordelik is vir ‘n reeks gewapende motor-blokkering-rooftogte. Die nasionale polisiewoordvoerder, Athlenda Mathe, sê die arrestasies is gedoen ná ‘n rooftog op die N1 in Pretoria, waarby ‘n vroue-diplomaat betrokke was. Mathe sê ondersoeke duur voort om vas te stel of daar enige skakel is met soortgelyke voorvalle:
# Eskom het ‘n wisselende naweek-beurtkrag-skedule aangekondig, met opheffings en afwisselings tussen fase twee en een tot verdere kennisgewing. Beurtkrag is vanoggend om 5-uur opgeskort tot vanmiddag 4-uur, gevolg deur fase twee tot môreoggend 5-uur. Nog ‘n opheffing volg tot môremiddag 4-uur, waarna fase een tot verdere kennisgewing in werking sal tree. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokwena, skryf hierdie verlaging toe aan die verwagte herstel van een-duisend-500 megawatt se opwekkingsvermoë teen môre:
# Die Amerikaanse ambassade in Rusland waarsku ‘ekstremiste’ het planne vir ‘n aanval binnekort in Moskou, ure nadat Russiese sekerheidsdienste gesê het hulle het ‘n beplande skietery by ‘n sinagoge deur ‘n sel van die Afghaanse afdeling van die Islamitiese Staat gefnuik. Reuters berig, die ambassade, wat herhaaldelik alle Amerikaanse burgers aangemoedig het om Rusland onmiddellik te verlaat, het nie meer besonderhede gegee oor die aard van die bedreiging nie, maar sê mense moet konserte en skares vermy en bewus wees van hulle omgewing. Die ambassade raai Amerikaanse burgers op sy webblad aan om oor die volgende 48-uur groot byeenkomste te vermy.
# Sokker: Motoriste word gewaarsku dat sekere paaie rondom die FNB-stadion vandag gesluit sal wees, weens die Soweto- sokker-derby tussen Orlando Pirates en Kaizer Chiefs. Die woordvoerder van die Johannesburgse Metropolitaanse Polisiedepartement, Xolani Fihla, sê verkeer in Nasrec-weg sal in ‘n teenoorgestelde rigting loop, en die Soweto-hoofweg sal van elf-uur vanoggend tot agtuur vanaand vir algemene verkeer gesluit wees:
# En, laastens: Die Direkteur-Generaal van die Departement van Wetenskap en Innovasie, Phil Mjwara, het die Presidensiële Toekenning ontvang by die Merietetoekennings van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad. Mjwara se leierskap tydens sy 18 jaar van diens het aansienlik bygedra tot Suid-Afrika se Nasionale Innovasie-stelsel. Mjwara is erken vir sy visie en akademiese prestasies en vir sy rol in die formulering van beleid, asook die aanspreek van maatskaplike uitdagings deur middel van wetenskap, tegnologie en innovasie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….