Nuus 07:00
Bulletin Opskrifte
BULLETIN 9 Maart 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# SAFA-huis word deursoek te midde van bewerings van bedrog en diefstal van R1,3-miljoen
# ‘n Naweek blaaskans in dag-beurtkrag
# En, rugby: ‘n Tweede agtereenvolgende Sesnasies-titel wink vir Ierland op Twickenham
# Die Ondersoek-eenheid vir Ernstige Kommersiële Misdaad sê hy het kragtens ‘n deursoekings- en beslagleggings-lasbrief ‘n ondersoek gedoen by die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging se kantoor in Gauteng, ná bewerings van bedrog en diefstal van 1,3-miljoen rand. Die Valke-woordvoerder, Katlego Mogale, sê SAFA-president Danny Jordaan sou na bewering tussen 2014 en 2018 die organisasie se hulpbronne vir persoonlike gewin gebruik het, insluitend die huur van private sekuriteit en ‘n skakelmaatskappy, sonder die nodige magtiging:
# Eskom het ‘n wisselende naweek-beurtkrag-skedule aangekondig, met opheffings en afwisselings tussen fase twee en een tot verdere kennisgewing. Beurtkrag is vanoggend om 5-uur opgeskort tot vanmiddag 4-uur, gevolg deur fase twee tot môreoggend 5-uur. Nog ‘n opheffing volg tot môremiddag 4-uur, waarna fase een tot verdere kennisgewing in werking sal tree. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokwena, skryf hierdie verlaging toe aan die verwagte herstel van een-duisend-500 megawatt se opwekkingsvermoë teen môre:
Eskom sê intussen hy het ‘n beduidende mylpaal bereik met die herkodering van sy voorafbetaalde meters, met drie-miljoen meters wat teen 1 Maart suksesvol herkodeer was. Hierdie projek se doelwit is om die 6,8-miljoen voorafbetaalde elektrisiteitsmeters almal voor die sperdatum op 24 November vanjaar te herkodeer. Kliënte word versoek om die herkoderingsproses getrou te volg, en te verseker dat hulle voorheen gekoopte kredietbewyse invoer voordat hulle nuwe bewyse vir hergekodeerde meters gebruik. Eskom beklemtoon die herkoderingsdiens is gratis en waarsku teen moontlike swendelaars.
# Indiese owerhede sê hulle hou lede aan van ‘n mensehandelnetwerk wat burgers van die land stuur om vir die Russiese weermag in Oekraïne te veg. Minstens twee Indiese soldate het in die konflik gesterf, met verskeie rekrute wat sê hulle is onder valse voorwendsels betrek. Ondersoekers het Donderdag klopjagte by 13 plekke uitgevoer en verdagtes vir ondervraging aangehou. Hierdie handelaars werk as ‘n georganiseerde netwerk en het Indiese burgers deur sosiale media en plaaslike agente gelok vir hoogs betaalde werk in Rusland.
# En, laastens, rugby: Ierland kan ‘n tweede agtereenvolgende Grand Slam- en Sesnasies-titel inpalm as hulle Engeland vanmiddag op Twickenham met ‘n bonuspunt klop. Die Iere is tans bo-aan die punteleer met 15 punte, met twee wedstryde oor, gevolg deur Skotland met nege punte. Die Skotte is steeds op koers om vir die eerste keer in die tweede-plek te eindig in die kompetisie. Hulle pak Italië vandag in Rome. Die laaste wedstryd van die naweek vind môre in Cardiff plaas tussen Wallis en Frankryk.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….