Nuus 18:00
BULLETIN 8 Maart 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die hof beveel die minister van Polisie om 93,9-miljoen-rand te betaal vir ‘n rooftog waarby polisielede betrokke was
# Die ANC verseker die stiptelike vrystelling van sy kandidatelys ná indiending by die OVK
# En, tennis: Die verdedigende kampioen, Alcaraz, is terug in Indian Wells en op soek na sy eerste titel van die jaar
# Belastingbetalers mag dalk binnekort die rekening betaal vir ‘n versekeringseis van 93,9-miljoen-rand aan die versekeringsonderskrywer, Lloyd’s of London. Die Hooggeregshof in Pretoria het die minister van Polisie, Bheki Cele, aanspreeklik gehou vir die optrede van twee polisiebeamptes wat by ‘n kontantrooftog betrokke was. Cele moet dié bedrag, met rente ingesluit, opdok vir die rooftog in Witbank, Mpumalanga, in 2014 waartydens ‘n bende, insluitend polisielede, meer as 100-miljoen-rand uit die sekerheidsonderneming SBV se kluis gesteel het. News24 berig die hof het Cele vir hul optrede aanspreeklik bevind, al het hy beweer die beamptes het onafhanklik opgetree.
# Die ANC het sy lys vir die Parlement en provinsiale wetgewers beskryf as ‘n mosaïek van geslagsgelykheid en bevoegdheid ter voorbereiding van die komende verkiesing. Openbare belang was ‘n sleutelfaktor in die samestelling van sy kandidatelys, in ‘n poging om weg te beweeg van swak dissipline, korrupsie en onbevoegdheid. Die ANC se woordvoerder, Mahlengi Bhengu-Motsiri, sê die party se verkiesingskomitee het meer as twee-duisend benoemings ontvang, 31 is verwerp en onderhoude is met meer as 200 kandidate gevoer. Bhengu-Motsiri sê die lys sal mettertyd bekend gemaak word:
# Die sloping van die brandbeskadigde Nasionale Vergadering-gebou sal na verwagting in April begin. Die Parlement se sekretaris, Xolile George, het aan die Finansiële Bestuurskomitee gesê ‘n bykomende een-miljard-rand is nodig vir opgraderings, benewens die twee-miljard-rand wat aanvanklik toegeken is. Hy sê die sperdatum vir voltooiing is ook uitgestel, van November 2025 tot Februarie 2026. George sê die hersiene skatting beloop 2,1-miljard-rand vir hoofwerke en 943-miljoen-rand vir die modernisering van inligting-en-kommunikasie-tegnologie-infrastruktuur. Die kantore vir Parlementslede is reeds voltooi.
# Die polisie in Mpumalanga het ‘n geregtelike doodsondersoek geopen na die dood van ‘n 65-jarige vrou wat deur honde verskeur is. Die polisiewoordvoerder, Donald Mdhluli, sê Tryphinah Elizabeth Mngomezulu se werkgewers het haar liggaam gevind by die plek waar sy as huishulp gewerk het. Voorlopige ondersoeke dui aan sy is deur ses honde aangeval terwyl haar werkgewers nie tuis was nie. Volgens die polisie het die Dierebeskermingsvereniging die honde ná die aanval uitgesit.
# Tennis: Die wêreld se nommer-twee, Carlos Alcaraz, sal môre begin met die verdediging van sy Indian Wells-titel teen die ongekeurde Italianer, Matteo Arnaldi. Alcaraz is op soek na sy eerste titel sedert hy in Julie op Wimbledon gewen het. In 2022 het die 20-jarige die Amerikaanse Ope gewen en die jongste mans-wêreld-nommer-een in die geskiedenis geword. Die Spanjaard hoop om sy sukses in Indian Wells te herhaal:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-67-sent teen die dollar, 20-rand-46-sent teen die euro en 24-rand-4-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-20-dollar-47-sent. Die prys van goud is twee-duisend-171-dollar-29-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-62-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….