Nuus 15:00
BULLETIN 8 Maart 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die IVP dien kandidate-lyste in en sal in al nege provinsies meeding in die verkiesing
# Die Hooggeregshof lewer binnekort uitspraak oor Zuma se poging om Downer uit sy korrupsiesaak verwyder te kry
# En, byna die helfte van Suid-Afrikaanse verbruikers se inkomste gaan aan die terugbetaling van skuld
# Die Inkatha Vryheidsparty se nasionale lys-komitee sê hy is gereed vir die verkiesing op 29 Mei. Die party se verkiesings-komitee het hul nasionale en provinsiale lyste suksesvol by die Onafhanklike Verkiesingskommissie ingedien en gisteroggend die registrasieproses voltooi. Die IVP is tevrede met die voltooide proses en sê hulle verwag aktiewe deelname in ál nege provinsies.
# Die Hooggeregshof in Pietermaritzburg, KwaZulu-Natal, sal op 20 Maart uitspraak lewer oor oudpresident Jacob Zuma se jongste poging om die aanklaer in sy wapentransaksie-korrupsiesaak, Billy Downer, te verwyder. Zuma het Downer van vooroordeel beskuldig, en voer aan hy sal nie ‘n regverdige verhoor kry as Downer die staat se saak teen hom lei nie. Die Nasionale Vervolgingsgesag wys daarop dat Zuma se eise reeds herhaaldelik van die hand gewys is en sy optrede eintlik daarop gemik is om sy verhoor te vertraag.
# Die Gautengse Departement van Gesondheid het die herstel van watertoevoer na verskeie gesondheidsgeriewe aangekondig, insluitend die Rahima Moosa-moeder-en-kind-hospitaal, die Helen Joseph-hospitaal en die Zola-gemeenskapsgesondheidsentrum. Die Gautengse Gesondheidswoordvoerder, Motalatale Modiba, sê die herstelwerk volg op waternutsdienste se onlangse uitdagings:
# Rugby: Engeland se afrigter, Steve Borthwick, het drie veranderings aan sy span aangebring vir môre se Sesnasies-kragmeting met die verdedigende kampioen, Ierland, in Londen. Die tuisspan is gretig om hulle teleurstellende nederlaag teen Skotland in die vorige ronde af te skud. Borthwick sê deurlopendheid is belangrik:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-64-sent teen die dollar, 20-rand-38-sent teen die euro en 23-rand-92-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-395-dollar-88-sent. Die prys van goud is twee-duisend-168-dollar-76-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-60-sent per vat.
# En, laastens: Suid-Afrikaanse verbruikers staan byna die helfte van hul inkomste af aan die terugbetaling van skuld, met die middelklas wat 80-persent nader. Volgens Eighty20 se 2023-kredietstresverslag het die vierde kwartaal ‘n afname in uitstaande saldo’s en huisleningswaardes getoon. Voertuig-befondsing het ‘n merkbare afname in leningsbedrae getoon. Strenger kredietverlengingsmaatreëls word waargeneem namate banke agterstallige skuld afskryf. Die vooruitsigte bly onseker, maar toon tekens van verbetering te midde van ekonomiese uitdagings.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….