Goeie Nuus
BULLETIN 8 Maart 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Gauteng se LUR vir Gesondheid, Nomantu Nkomo-Ralehoko, sê die navorsingsentrum vir kerngeneeskunde by die Steve Biko Akademiese Hospitaal in Pretoria het die instelling tot ‘n klas van sy eie verhef in die veld van kerngeneeskunde en -navorsing in Afrika. Sy sê die sentrum het toekomsgerigte infrastruktuur wat die lewensgehalte en algemene oorlewing verbeter van kankerpasiënte wat radiofarmaseutiese middels gebruik:
# ʼn Nuwe dokumentêr deur twee professors aan die Universiteit van Pretoria word na verwagting later die maand die eerste keer op Springbok in die Noord-Kaap vertoon. Die dokumentêr handel oor tradisionele vroedvroue se vaardighede wat verlore gaan weens die wêreldwye verskuiwing na Westerse mediese praktyke. Die dokumentêr met die titel, Vroedvrou, is geregisseer deur ‘n professor in Afrika-studies, Siona O’Connell, en die instelling se akademiese onderhoof, Loretta Feris. O’Connell sê hulle wou die rykdom van tradisionele vroedvroue se kennis vasvang en ‘n bewustheid skep oor die noodsaaklike rol van tradisionele vroedvroue in die Noord-Kaap.
# Die Tshwane Universiteit van Tegnologie sê twee nasionale erfenisskatte wat ongeëwenaarde geleenthede vir ‘n leer-ervaring vir studente bied, word môre onthul. Die twee terreine is by Toppieshoek op die wal van die Hartbeespoortdam. Dit is die Broederstroom Vroeë Ystertydperk argeologiese perseel en die ander een die voormalige Universiteit van Leiden se Suidelike Sterrewag. Die universiteit sê ‘n boek met die titel The Heritage Treasures of Toppieshoek wat die terreine en hulle geskiedenis beskryf, is uitgegee.
# Oscar-benoemdes sal items ontvang soos skoonheidsprodukte, rolprent-geïnspireerde sjokolade, fynproewer-springmielies, ‘n Rubik-kubus en verblyf in ‘n luukse chalet in die Switserse Alpe. Elke bederfpakkie bevat omtrent 60 items ter waarde van meer as drie-miljoen-rand. Reuters berig maatskappye betaal om hulle produk in die pakkies te kry, in ruil vir moontlike onbetaalbare blootstelling aan akteurs op die A-lys. Die jaarlikse Oscar-seremonie vind Sondag in Los Angeles plaas, met Oppenheimer die gunsteling vir verskeie toekennings, onder meer Beste Rolprent en Beste Regisseur.
# En, om mee af te sluit: Die mediamagnaat Rupert Murdoch het die sesde keer verloof geraak. Die 92-jarige Murdoch gaan volgens berigte met die 67-jarige afgetrede Russiese molekulêre bioloog, Elena Zhukova, trou. Hulle het blykbaar by ʼn partytjie ontmoet wat sy derde eksvrou, die Chinees-gebore entrepreneur Wendi Deng, gehou het. Die New York Times berig uitnodigings is reeds uitgestuur vir die troue wat in Junie op Murdoch se wynplaas en landgoed in Kalifornië, Moraga, plaasvind. Murdoch se beursgenoteerde en New York-gebaseerde maatskappy, News Corp, besit honderde plaaslike, nasionale en internasionale digitale nuusplatforms.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….