Nuus 14:00
BULLETIN 8 Maart 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Watertoevoer is herstel na gesondheidsgeriewe in Gauteng
# Transnet weier om die ongeluk-verslag oor die ontsporing by Ulundi bekend te maak
# En, rugby: Fidji dank sy sewes-hoofafrigter af weens swak prestasie
# Die Gautengse Departement van Gesondheid het die herstel van watertoevoer na verskeie gesondheidsgeriewe aangekondig, insluitend die Rahima Moosa-moeder-en-kind-hospitaal, die Helen Joseph-hospitaal en die Zola-gemeenskapsgesondheidsentrum. Die Gautengse Gesondheidswoordvoerder, Motalatale Modiba, sê die herstelwerk volg ná waternutsdienste se onlangse uitdagings:
# Transnet Spoorvrag weier om die ongeluk-verslag oor die ontsporing by Ulundi in KwaZulu-Natal in November 2022 bekend te maak, met verwysing na vertroulikheid. ‘n Persoon met binnekennis het egter onthul die trein het na bewering drie keer vinniger as die spoedbeperking gery. Dit het gelei tot die ontsporing van 97 van die 100 waens. Die ongeluk het 14 dae van ontwrigting veroorsaak, met geraamde verliese van tussen 1,9-miljoen en 2,8-miljoen ton uitset. Transnet Spoorvrag het glo daagliks 55-miljoen-rand se inkomste verloor.
# Die DA het vandag hofstukke beteken op die minister van Elektrisiteit, Kgosientsho Ramokgopa, en die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika rakende die Artikel 34-bepaling om twee-duisend-500 megawatt se nuwe kernkrag-opwekking aan te skaf. Die party voer aan die vasstelling-prosedure was prosesgewys onbillik, en het versuim om openbare kommentaar toe te laat oor die voorleggings waarop dit gegrond was. Kevin Mileham van die DA sê hulle sal dus probeer om dit tersyde te laat stel:
# # Rugby: Fidji se beheerliggaam het die hoofafrigter van sy sewesspan afgedank slegs vier maande voor die begin van die Olimpiese Spele in Parys. Ben Gollings is deur Osea Kolinisau vervang, wat die kaptein was toe Fidji goud verower het op 2016 se Olimpiese Spele in Rio. Fidji het ook die kompetisie op die Spele in Tokio gewen. Die unie sê Gollings voldoen nie aan die gewenste standaarde nie. Fidji is nou derde op die punteleer van die wêreldreeks na hulle dié seisoen nog nie een toernooi kon wen nie.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-63-sent teen die dollar, 20-rand-37-sent teen die euro en 23-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-279-dollar-21-sent. Die prys van goud is twee-duisend-169-dollar-7-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 83-dollar-2-sent per vat.
# En, laastens: Shout-It-Now het op Internasionale Vrouedag die behoefte beklemtoon aan deursigtige gesprekke om aandag te skenk aan geslagstereotipes. Die uitvoerende hoof, Ntombifikile Mtshali, beklemtoon die uitwerking van geslagstereotipes op beide mans en vroue, en noem verder hierdie stereotipes begin reeds op ‘n jong ouderdom, wat gedrag beïnvloed en bydra tot geslagsgeweld. Sy beklemtoon die gebrek aan veilige emosionele ruimtes vir mans en ongelyke werkplek-verwagtinge vir vroue in vergelyking met mans:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….