Nuus 12:00
BULLETIN 8 Maart 12 nm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Gordhan gaan na verwagting binne weke uit die politiek tree
# Die Republikeinse Party kritiseer Joe Biden se staatsrede
# En rugby: Townsend wil hê sy span moet die tweede plek in die Sesnasies vasknoop
# Die minister van Openbare Ondernemings, Pravin Gordhan, gaan volgens berigte in die komende weke uit die politiek bedank om op sy gesondheid en gesin te fokus. Die ANC sal na verwagting vandag sy kandidatelys vir die verkiesing by die Onafhanklike Verkiesingskommissie indien. Die 74-jarige Gordhan het in ‘n eksklusiewe onderhoud met Business Day gesê hy is nie langer beskikbaar om op die kandidatelys te verskyn nie. Hy sê ten spyte van sy besluit om uit aktiewe politiek te tree, bly hy ʼn getroue lid van die ANC.
# Sakevertroue in Suid-Afrika het in die eerste kwartaal vanjaar met nog ʼn punt tot 30 gedaal. Dit is volgens die RMB/BER-sakevertroue-aanwyser wat tred hou met menings onder sake-ondernemings. Annabel Bishop van Investec sê die afwaartse neiging weerspieël voortgesette kommer oor die koste om in Suid-Afrika sake te doen, en min verbetering word in die nabye toekoms verwag:
# Die Suid-Afrikaanse Nasionale Taxi-raad het bevestig sy bedrywighede in Ekurhuleni aan die Gautengse Oos-Rand het hervat nadat hulle ʼn ooreenkoms met die Gautengse regering bereik het. Taxibestuurders het Woensdagaand hulle bedrywighede opgeskort weens ʼn geskil met die Ekurhuleni-metro oor ʼn buskontrak en taxi’s wat geskut is. Dit het pendelaars in gebiede soos Tembisa, Germiston, Benoni, Katlehong en Vosloorus gestrand gelaat. Santaco sê hulle voer steeds gesprekke met die provinsiale regering om ʼn permanente oplossing vir hulle eise te vind.
# Die Amerikaanse Republikeinse Party het president Joe Biden se beleid oor immigrasie, die ekonomie, misdaad en buitelandse sake gekritiseer. Die president het die staatsrede gelewer waarin hy ‘n dwarsklap vir sy voorganger, Donald Trump, uitgedeel en ook oor immigrasie, aborsie, die ekonomie en die konflik tussen Israel en Hamas gepraat het. Senator Katie Brett van Alabama het die Republikeine se reaksie op die staatsrede gelei en gesê Biden is ‘n politikus wat uit voeling is en weet min van wat die middelklas deurmaak:
# Rugby: Skotland se afrigter, Gregor Townsend, het sy span aangemoedig om hulle spelpeil tot nuwe hoogtes te lig in hulle poging om die eerste keer in die Sesnasies-era in die boonste twee posisies te eindig. Townsend se span is tweede op die punteleer, een punt voor Engeland en drie voor Frankryk. Hulle het weg-wedstryde oor teen Italië en die Grand-Slam-aanspraakmaker, Ierland. Selfs al sou Skotland môre in Italië wen, sal Ierland agtereenvolgende titels beklink as hulle later die dag met ‘n bonuspunt wen teen Engeland op Twickenham.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-66-sent teen die dollar, 20-rand-40-sent teen die euro en 23-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-176-dollar-27-sent. Die prys van goud is twee-duisend-166-dollar-36-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 83-dollar-55-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….