Nuus 11:00
BULLETIN 8 Maart 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Gordhan gaan glo in die komende weke uit die politiek tree
# Die burgemeester van Mangaung veroordeel die grondbesetting in Lourierpark
# En, Biden beveel die Amerikaanse Weermag om ‘n tydelike hawe in Gaza in te rig vir die lewering van humanitêre hulp
# Die minister van Openbare Ondernemings, Pravin Gordhan, gaan volgens berigte in die komende weke uit die politiek bedank om op sy gesondheid en gesin te fokus. Die ANC sal na verwagting vandag sy kandidatelys vir die verkiesing by die Onafhanklike Verkiesingskommissie indien. Die 74-jarige Gordhan het in ‘n eksklusiewe onderhoud met Business Day gesê hy is nie langer beskikbaar om op die kandidatelys te verskyn nie. Hy sê ten spyte van sy besluit om uit aktiewe politiek te tree, bly hy ʼn getroue lid van die ANC.
# Die algemene bedrywe-vakbond, Giwusa, vra die nasionalisering van die oliebedryf en raffinaderye om bekostigbare energie te verseker vir die werkersklas en ‘n vinnige oorgang na hernubares in die lig van die ergerwordende klimaatskrisis. Die vakbond kritiseer die Sentrale Energiefonds oor ‘n gebrek aan demokratiese insette en dat hy beïnvloed word deur monopolieë in die energiesektor. Die president van Giwusa, Mametlwe Sebei, sê die huidige brandstofprysregulasies is tot voordeel van die groot olie-monopolieë, en tot nadeel van die werkers- en middelklas:
# Die burgemeester van Mangaung, Gregory Nthatisi, het die grondbesetting in Lourierpark, Bloemfontein, ten sterkste veroordeel. Meer as 20 mense is tot dusver in hegtenis geneem vir onwettige grondbesetting. Inwoners is bekommerd oor hulle veiligheid, want duisende besetters het hulle onwettig op munisipale eiendom tuisgemaak. Die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Plaaslike Owerhede in die Vrystaat sê intussen onwettige grondbesetting ontwrig stedelike beplanning en ontwikkeling, en verhinder munisipaliteite om noodsaaklike dienste soos water en elektrisiteit te verskaf.
# Die Amerikaanse president, Joe Biden, het herhaal Israel het ‘n fundamentele verantwoordelikheid om onskuldige burgerlikes in Gaza te beskerm. Hy het in sy die staatsrede die konflik tussen Israel en Hamas toegelig, aborsie-regte verdedig en sy voorganger, Donald Trump, die skuld gegee vir die Kongres se onvermoë om meer hulp aan Oekraïne goed te keur. Biden sê hy het die Amerikaanse Weermag opdrag gegee om ‘n tydelike hawe in Gaza te bou om meer humanitêre hulp aan die gebied ter see te verskaf:
# Rugby: Skotland se afrigter, Gregor Townsend, het sy span aangemoedig om hulle spelpeil tot nuwe hoogtes te lig in hulle poging om die eerste keer in die Sesnasies-era in die top twee posisies te eindig. Townsend se span is tweede op die punteleer, een punt voor Engeland en drie voor Frankryk. Hulle het weg-wedstryde oor teen Italië en die Grand-Slam-aanspraakmaker, Ierland. Selfs al sou Skotland môre in Italië wen, sal Ierland agtereenvolgende titels beklink as hulle later die dag met ‘n bonuspunt wen teen Engeland op Twickenham.
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-67-sent teen die dollar, 20-rand-43-sent teen die euro en 23-rand-92-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-487-dollar-26-sent. Die prys van goud is twee-duisend-591-dollar-71-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 83-dollar-42-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….