Nuus 08:00
BULLETIN 8 Maart 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê regeringsprogramme gaan steeds voort tydens die verkiesingsseisoen
# Die Staatsamptenaar-vereniging is bekommerd oor die toestand van sommige regeringsgeboue
# En, tennis: Simona Halep keer terug na mededingende spel by die Miami Ope
# President Cyril Ramaphosa sê die regering het die afgelope vyf jaar imbizo’s gehou en regeringsprogramme stop nie omdat dit verkiesingseisoen is nie. Hy en talle ministers het gister die 12de presidensiële imbizo van die distrik-ontwikkelingsmodel in Emalahleni, Mpumalanga, bygewoon. ActionSA beskuldig die president dat hy regeringshulpbronne vir die ANC se verkiesingsveldtog gebruik. Ramaphosa sê die regering se werk moet voortgaan al is dit ‘n verkiesingsjaar:
# Die Vereniging van Staatsamptenare sê die toestand van verskeie regeringsgeboue is kommerwekkend. Die departement van Openbare Werke en Infrastruktuur het onthul hy het byna 14-miljard-rand nodig om al die staatsgeboue in sy portefeulje behoorlik in stand te hou. Hy ontvang egter slegs 5,7-miljard-rand van die nasionale begroting. Die departement hou tans toesig oor 56-duisend-393 geboue. Die vereniging sê in die meeste gevalle lei korrupsie en wanadministrasie tot die verval van regeringsgeboue.
# Die DA in Johannesburg sê hy het ʼn brief aan burgemeester Kabelo Gwamanda geskryf en eis dat hy die huidige waterkrisis in die metro dringend hanteer. ʼn Massiewe onderbreking het baie dele van die metro sonder water gelaat ná probleme by Rand Water se Eikenhof-pompstasie. Watertoevoer is wel na dele van Johannesburg herstel, maar krane in Roodepoort en Randburg is steeds leeg. Nicole van Dyk van die DA sê die saak moet dringend aandag kry:
# Onbekende gewapende mans het minstens 287 skoolkinders in die noordwestelike streek van Nigerië ontvoer. Volgens berigte het die mans op motorfietse ná die oggend se saalbyeenkoms deur die skool in Kuriga gery en leerders tussen agt en 15 jaar saam met ʼn onderwyser ontvoer. Bendes ontvoerders, bekend as struikrowers, het die afgelope jare honderde mense veral in die noordweste ontvoer. Dit volg enkele dae nadat meer as 200 mense, hoofsaaklik vroue en kinders, na bewering deur die Islamitiese Boko Haram-groep in die noordooste van Nigerië ontvoer is.
# Tennis: Die tweemalige Grand Slam-kampioen, Simona Halep, het bevestig sy gaan deelneem aan die Miami Ope wat op die 17de begin. Die 32-jarige Roemeen het as promotorskeuse by die toernooi in Florida ingeskryf. Halep se terugkeer volg nadat die Hof vir Arbitrasie in Sport haar skorsing van vier jaar weens opkikkers na nege maande verminder het. Die nege maande is reeds verstreke. Die wêreld se gewese nommer een sê sy kan nie wag om na die baan terug te keer en weer mee te ding nie.
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-69-sent teen die dollar, 20-rand-46-sent teen die euro en 23-rand-94-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-310-dollar-15-sent. Die prys van goud is twee-duisend-156-dollar-59-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 83-dollar-27-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….