Nuus 18:00
BULLETIN 7 Maart 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# MK-party-ondersteuners probeer ‘n presidensiële imbizo in Mpumalanga ontwrig
# Action Society moedig openbare waaksaamheid aan te midde van kinderontvoerings
# En die Springbok-familie verwelkom sy jongste lid
# President Cyril Ramaphosa waarsku enigeen wat verkiesingsgeweld aanhits sal in hegtenis geneem word. Dit volg na dreigemente van bloedvergieting deur die uMkhonto we Sizwe-party in KwaZulu-Natal as hulle uitgesluit sou word van die stemmery op 29 Mei. Vroeër vandag het ondersteuners van die MK-party probeer om die opening van die presidensiële imbizo in Emalahleni, Mpumalanga, te ontwrig voor die aankoms van die president, met die sing van uitlokkende slagspreuke. Ramaphosa sê diegene wat geweld aanhits is vyande van die demokrasie:
# Action Society sê Suid-Afrika staan voor ‘n kritieke uitdaging om die veiligheid van sy kinders te verseker, en noem die geval van Joslin Smith om die kwesbaarheid van kinders te onderstreep. Die organisasie loof die polisie in die Wes-Kaap vir die ondervraging van persone van belang in Joslin se verdwyning. Meer as een-duisend-300 ontvoeringsake word maandeliks aangemeld en Kaylynn Palm van Action Society vra gelyke aandag aan alle sake, moedig ouerlike waaksaamheid aan en ‘n kollektiewe toewyding aan kinderveiligheid:
# Die Stad Tshwane se Nooddienste het gemeenskappe aangeraai om waaksaam te bly aangesien ‘n Geel Vlak 2-waarskuwing vir erge donderstorms met sterk wind, hael en swaar reën uitgereik is. Die stad se woordvoerder, Lindela Mashigo, sê die gure weer kan lei tot oorstromings, voertuigongelukke, kragonderbrekings, bome wat omval en skade weens hael:
# Krieket: Engeland het nog ‘n slegte dag beleef in die toetsreeks teen Indië. Die besoekers is uitgeboul vir net 218 op die eerste dag van die vyfde en laaste toets in Dharamsala. Zak Crawley se 79 was die enigste hoogtepunt, terwyl Kuldeep Yadav vyf paaltjies ingeoes het en Ravichandran Ashwin vier. Indië het teen uitskeityd 135 vir een gehad danksy 57 lopies deur Yashasvi Jaiswal en ‘n onoorwonne 52 deur kaptein Rohit Sharma. Indië het reeds die reeks 3-1 beklink.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-78-sent teen die dollar, 20-rand-42-sent teen die euro en 23-rand-94-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-en-23-dollar-3-sent. Die prys van goud is twee-duisend-159-dollar-17-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-71-sent per vat.
# En ten slotte, die Springbokke het nog ‘n baba in hulle midde verwelkom met die nuus dat die dubbelle Wêreldbeker-wenner Faf de Klerk en sy vrou, Miné, ouers geword het. Die egpaar het op sosiale media aangekondig hulle dogtertjie, met die naam Remi-Ré, is reeds op die 27ste van verlede maand gebore. Hulle sê sy het bietjie vroeg aangekom in die Rosepark-hospitaal in Bloemfontein. De Klerk speel tans vir die Yokohama Eagles en die gesin sal na verwagting binnekort na Japan terugkeer.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….