Eko-minuut 13:30
BULLETIN 7 Maart 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# Die aktivisme-organisasie Just Share beklemtoon die behoefte aan betekenisvolle strawwe vir maatskappye wat nie voldoen aan koolstof-begrotings en planne vir die beperking van kweekhuisgasse nie. Just Share sê wanneer dit afgedwing word sal die Wet op Klimaatsverandering Suid-Afrika se eerste wet wees wat spesifiek gemik is op klimaatsverandering. Die huidige weergawe het egter nie strawwe vir die oorskryding van koolstofbegrotings nie. Just Share vra dat strawwe in die konsepregulasies die doeltreffendheid van die wet moet verseker en uitstralings ingevolge die Paryse Ooreenkoms verminder.
# Die Stad Kaapstad het die jongste internasionale tegniese bystand goedgekeur vir onder meer sy nul-koolstof-, sonkrag- en energievolhoubaarheidsplanne. Die Duitse ontwikkelingsagentskap, Deutsche Gesellschaft für Internationale Zusammenarbeit, ondersteun die instelling van die stad se projekte wat deur die C40 Klimaatfinansieringsprojek befonds word. Die burgemeesterskomiteelid vir Energie, Beverley van Reenen, sê die stad se beplande energieprojekte vereis ‘n beduidende hoeveelheid hulpbronne, insluitend tegniese bystand en wêreldklas kundigheid:
# En, navorsers meen die bewaring van ongewerweldes waarborg plaagbeheer en verhoogde produktiwiteit, sonder om eko-stelsels te skaad. Plae is verantwoordelik vir ongeveer tien-persent van oesverliese elke jaar, en die beheer daarvan het gelei tot die wydverspreide gebruik van chemiese plaagdoders. Navorsers in Brasilië, die VSA en die Tsjeggiese Republiek het nou vorige navorsing oor roofdierplaagbeheer ontleed. Hulle het bevind dat ongewerwelde diere gehelp het om plaagbevolkings met meer as 70-persent te verminder, terwyl oes-opbrengste terselfdertyd met 25-persent toegeneem het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….