Nuus 12:00
BULLETIN 7 Maart 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA voltooi die OVK-prosesse om op die nasionale en provinsiale stembriewe te wees
# Ekurhuleni se pendelaars is gestrand gelaat te midde van ‘n taxistaking
# En, tennis: Rafael Nadal onttrek hom aan Indian Wells
# ActionSA sê hy het al sy indienings by die Onafhanklike Verkiesingskommissie afgehandel om op nasionale en provinsiale stembriewe in al nege provinsies te verskyn vir die algemene verkiesing van 29 Mei. Die party sê sy verkiesingsdeposito’s is ten volle betaal. ActionSA se nasionale voorsitter, Michael Beaumont, sê hul kandidatelyste wat ingedien is vir die Nasionale Vergadering en provinsiale wetgewers, weerspieël en verteenwoordig verskeidenheid, uitnemendheid, jeug en ervaring:
# Pendelaars in Ekurhuleni word aangeraai om tot verdere kennisgewing alternatiewe vervoerreëlings te tref te midde van ‘n taxistaking. Die optrede laat pendelaars in Germiston, Katlehong, Tembisa en ander gebiede aan die Oos-Rand sedert gisteraand gestrand. ʼn Woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Nasionale Taxiraad, Phaphama Zulu, sê die regering se ontplooiing van busse op taxi-roetes is die hoofrede vir die staking. Hy sê onderhandelings met die regering duur voort.
# Die Stad Tshwane se burgemeesterskomiteelid vir Finansies, Jacqui Uys, het amptenare vergesel op ‘n ontkoppelingsveldtog na ‘n winkelsentrum in Centurion, wat die stad meer as 3,2-miljoen-rand skuld. Dit is deel van die Tshwane-Ya-Tima-veldtog om uitstaande skuld van meer as 23-miljard-rand te herwin. Elektrisiëns het bevind die kragtoevoer na die eiendom is weer onwettig verbind, wat tot nog ‘n ontkoppeling gelei het. Uys sê die stad gaan ‘n klagte by die polisiekantoor in Lyttleton indien vir die onwettige herverbinding van elektrisiteit en peutering met infrastruktuur:
# Tennis: Die driemalige kampioen, Rafael Nadal, het hom aan die Indian Wells-ope onttrek en sê hy is nie gereed om op die hoogste vlak te speel nie. Die 37-jarige Spanjaard het in Januarie in Brisbane teruggekeer nadat ‘n heupbesering hom byna ‘n jaar lank uit die spel gehou het. Hy sou in die eerste ronde teen die Kanadees Milos Raonic speel en word vervang deur die gelukkige verloorder, Sumit Nagal. Hy is die eerste Indiese mededinger in die hooftrekking van ‘n ATP Meesters-eenduisend-byeenkoms sedert Prajnesh Gunneswaran in Miami in 2019.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-83-sent teen die dollar, 20-rand-51-sent teen die euro en 23-rand-98-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-304-dollar-96-sent. Die prys van goud is twee-duisend-156-dollar-69-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-74-sent per vat.
# En, die raad van Business Unity South Africa het die aanstelling aangekondig van Khulekani Mathe as uitvoerende hoof, met ingang Januarie 2025. Hy volg Cas Coovadia op, wat aftree. Mathe, wat hom in Februarie 2023 aangesluit het as adjunk-uitvoerende hoof, het ‘n sleutelrol gespeel in die hantering van vervoer- en logistieke uitdagings. Die president van Busa, Mxolisi Mgojo, het Coovadia geloof vir sy leierskap in uitdagende tye asook sy pogings om ‘n vennootskap met die regering te vorm om nasionale kwessies te hanteer. Die raad sê hy het volle vertroue in Mathe se vermoë om in dié tydperk te lei.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….