Nuus 09:00
BULLETIN 7 Maart 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Gordhan sê vertroulikheid in die SAL-Takatso-transaksie is nie dieselfde as geheimhouding nie
# Die DA sê intussen Gordhan se toesmeerdery van die transaksie is kommerwekkend
# En, ‘n soektog word van stapel gestuur ná die ontvoering van ’n neef en niggie in Brits, Noordwes
# Die minister van Openbare Ondernemings, Pravin Gordhan, het die vertroulikheid rondom die Suid-Afrikaanse Lugdiens-Takatso-konsortium-transaksie verdedig. Die Parlement se portefeuljekomitee oor Staatsondernemings het met die minister verskil oor toegang tot ‘n lys dokumente oor die transaksie. In 2021 is Takatso gekies as voorkeur-aandelevennoot, om ‘n 51-persent-belang in die SAL te koop, terwyl die regering ‘n 49-persent-belang behou. Gordhan sê daar is geen bewyse van korrupsie in die transaksie nie:
Die DA sê intussen hy is teleurgesteld deur die parlementêre regsdienste se besluit om die ooreenkoms tussen die Suid-Afrikaanse Lugdiens en Takatso-konsortium geheim te hou. Die Parlement se regsadviseur, Andile Tetyana, sê die ooreenkoms wat in Junie 2021 onderteken is, moet vertroulik bly omdat dit nog nie afgehandel is nie. Die DA sê nadat 38,1-miljard-rand van belastingbetalers se geld as reddingsboei vir SAL gebruik en nog miljarde nodig is vir herkapitalisering, is dit onredelik dat Gordhan, steeds dink landsburgers verdien nie om te weet waaroor die ooreenkoms gaan nie.
# Die polisie in Noordwes het ‘n soektog van stapel gestuur nadat ʼn neef en niggie in Brits ontvoer is. Die 17-jarige Zahraa Mohammed en 19-jarige Bataviya Mohammed was op pad skool toe in Hartbeespoort toe ʼn maroen Audi A3 van voor teen hulle motor gestamp en hulle tot stilstand gedwing het. Die polisiewoordvoerder, Amanda Funani, sê twee gewapende mans het na bewering uit die Audi gespring en die twee jongmense in ʼn ander voertuig, ʼn wit Volkswagen Polo, gedwing. Die verdagtes het met die slagoffers van die toneel gevlug:
# ‘n Inisiatief van die Wêreldbank, Distributed Access through Renewable Energy Scale-up, het elektrifisering ten doel vir miljoene mense, plase, besighede, skole en klinieke in Afrika en wêreldwyd teen 2030. Die hoof-energiespesialis van die Wêreldbank, Raihan Elahi, beklemtoon die belangrikheid van verspreide hernubare energie ten einde teen 2030 universele toegang tot energie te bereik. Elahi het gepraat op die Afrika-energie-indaba in Kaapstad en gesê verspreide hernubare energie, wat fokus op mini-netwerke en alleenstaande sonkrag, kan tot die voordeel wees van 50-persent van die mense in Afrika wat nie elektrisiteit het nie.
# Sokker: Die verdedigende kampioene, Manchester City, en Real Madrid is deur na die kwarteindronde van die Kampioeneliga. City het Copenhagen in die tweede afdeling met drie-een verslaan ná doele deur Manuel Akanji, Julian Alvarez en Erling Haaland om ʼn algehele oorwinning van ses-twee te verseker. Intussen het Madrid met twee-een in totaal verby RB Leipzig geskuur ná ʼn gelykoptelling van een elk in hulle tweede afdeling. City se bestuurder, Pep Guardiola, sê om die sewende agtereenvolgende seisoen die Kampioeneliga se kwarteindronde te haal, word alles aan die spelers en die klub toegeskryf:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-80-sent teen die dollar, 20-rand-50-sent teen die euro en 23-rand-95-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-997-dollar-96-sent. Die prys van goud is twee-duisend-158-dollar-21-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-86-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….