Nuus 06:00
BULLETIN 7 Maart 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa bevestig die verwydering van regters
# Eskom kondig ‘n roterende beurtkrag-skedule aan
# En, Trump is nou reguit op pad na die Republikeinse benoeming
# Die afgetrede regter Nkola Motata is amptelik deur president Cyril Ramaphosa uit sy posisie verwyder. Dit volg na ‘n Nasionale Vergadering-resolusie waarin 296 lede gestem het vir Motata se verwydering weens growwe wangedrag wat verband hou met ‘n dronkbestuur-skuldigbevinding in 2009. Ramaphosa het ook die Wes-Kaapse regter-president, John Hlophe, uit sy pos onthef. Die Regterlike Gedragstribunaal het bevind Hlophe se optrede het die onafhanklikheid van die Konstitusionele Hof bedreig. Presidensie-woordvoerder, Vincent Magwenya, sê die verwyderings stem ooreen met die regering se voldoening aan die voorskrifte van die grondwet:
# Eskom sê ‘n afwisselende patroon tussen fase twee en fase vier beurtkrag sal ingestel word, om noodreserwes aan te vul. Vanaf vier-uur die middag sal fase twee-beurtkrag ingestel word tot agtuur saans, gevolg deur fase vier tot vyfuur die volgende oggend. Hierdie siklus sal tot verdere kennisgewing voortduur, as gevolg van vertragings met die herstel van drie opwekkingseenhede. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokwena, sê die kragstelsel sal noukeurig gemonitor word en beloof om môremiddag opdaterings vir die naweek te gee:
# Die Stad Ekurhuleni sê sy finansiële integriteit bly gesond. Dit volg nadat die krediet-graderingsagentskap, Moody’s, die metro afgradeer het nadat hy nie teen die einde van verlede maand sy geouditeerde finansiële verslae aan die Johannesburgse Aandelebeurs oorhandig het nie. Die agentskap sê die afgradering weerspieël die verhoogde risiko van nienakoming te midde van verswakkende bestuur en bestuurspraktyke. Die Stad Ekurhuleni verwerp die koers-afgradering en sê hy het geen formele ooreenkoms met Moody’s vir sulke evaluerings nie. Hy voeg by hy bly verbind tot deursigtige en verantwoordelike finansiële bestuur.
# Die tugverhoor van die geskorste Wes-Kaapse wetgewerlid van die GOOD Party, Peter de Villiers, begin vandag. Dié voormalige Springbok-afrigter is tans uit die party geskors ná bewerings van seksuele wangedrag teen hom. De Villiers het na bewering in Januarie seksuele toenadering gesoek teenoor ‘n mede-partylid. GOOD het advokaat Lionel Esau as die verhoorvoorsitter aangestel. Die party sê die bewerings is ernstig en sy grondwet handel omvattend met geslagsregte en seksuele wangedrag.
# Die voormalige Amerikaanse president Donald Trump se finale struikelblok om die Republikeinse kandidaat te word is verwyder, met Nikki Haley wat haar aan die wedloop onttrek het. Maar sy het geweier om Trump haar steun te gee, en sê hy moet die steun van sy party verdien, asook van die onafhanklike kiesers wat haar gesteun het. Die voormalige goewerneur van Suid-Carolina, wat die voorkeur-kandidaat was vir Republikeine wat moeg is vir Trump se voortslepende regskwessies, sê sy het geen berou nie:
# Rugby: Die Hurricanes sal sonder hul All Blacks-agterspeler, Jordie Barrett, wees vir hul volgende Superrugby-wedstryde teen die Blues; die verdedigende kampioene, die Crusaders; en die Melbourne Rebels. Hy is tot die 22ste van hierdie maand geskors nadat hy verlede naweek met ‘n geelkaart afgestuur is vir ‘n gevaarlike duikslag op Queensland Reds se heelagter, Jordan Petaia. Dit is daarna opgegradeer na rooi. Dit was Barrett se 100ste wedstryd vir die Hurricanes, wat hulle met 38-33 gewen het. Hy het al 57 toetse vir Nieu-Seeland gespeel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-80-sent teen die dollar, 20-rand-50-sent teen die euro en 23-rand-95-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-987-dollar-91-sent. Die prys van goud is twee-duisend-145-dollar-66-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 83-dollar-11-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….