Nuus 18:00
BULLETIN 6 Maart 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa verwyder die Wes-Kaapse regterpresident uit sy pos
# Die DA dien ‘n klagte by die Etiekkomitee in teen die speaker van die Nasionale Vergadering
# En sokker: Manchester City pak FC Copenhagen vanaand met die oog op die Kampioeneliga-kwarteindronde
# President Cyril Ramaphosa het amptelik die Wes-Kaapse regterpresident, John Hlophe, uit sy pos verwyder. Die besluit volg op bevindings van ernstige wanoptrede deur die Regterlike Dienskommissie. Daarby het ‘n besluit van die Nasionale Vergadering, gesteun deur meer as twee-derdes van die lede, sy verwydering versoek. Hlophe is in 2008 beskuldig van ‘n poging om twee regters van die Konstitusionele Hof, Bess Nkabinde en Chris Jafta, onbehoorlik te beïnvloed. Hy verloor nou sy voordele, wat ‘n lewenslange salaris, motortoelaag en omvattende mediese sorg insluit.
# Die Demokratiese Alliansie het ‘n klagte ingedien by die Parlement se Gesamentlike Komitee oor Etiek en Ledebelange rakende korrupsie-bewerings teen die speaker van die Nasionale Vergadering, Nosiviwe Mapisa-Nqakula. Die DA se hoofsweep, Siviwe Gwarube, beklemtoon die belangrikheid van die handhawing van aanspreeklikheid en deursigtigheid in openbare ampte. Sy sê bewerings teen die speaker bedreig die geloofwaardigheid van die parlement. Gwarube vra ‘n vinnige en volledige ondersoek om die saak met erns en dringendheid te hanteer:
# ActionSA beskuldig die Gautengse premier dat hy die e-tol-stelsel net wil skrap met die oop op die verkiesing op 29 Mei. Lesufi het beloof om die ongewilde stelsel teen die einde van dié maand te skrap. Funzi Ngobeni van ActionSA sê dis egter te laat. Hy sê die ANC het die e-tolstelsel sonder behoorlike raadpleging ingestel. Ngobeni is teleurgesteld met die vertraging van die skrapping, aangesien Lesufi meer as ‘n jaar gelede reeds in sy eerste provinsiale rede onderneem het om dit te doen.
# Die Franse energiereus TotalEnergies het sy voetspoor in Suid-Afrika vergroot deur deelnemende belange in ‘n nuwe gasverkenningsgebied langs die Weskus te verkry. News24 berig die ooreenkoms met Africa Oil South Africa vergroot TotalEnergies se teenwoordigheid in die Oranjekom. Die maatskappy is optimisties oor die potensiaal van hierdie nuwe lisensie. Dié strategiese stap sluit aan by die maatskappy se breër ontginningspogings in Namibië, waar hy twee olievelde bedryf. Hy het onlangs elf-miljard vate olie in die Venus-veld ontdek, wat Namibië as ‘n beduidende olieprodusent kan vestig.
# Sokker: Manchester City sal vanaand hul Kampioeneliga-verdediging in Engeland voortsit wanneer hulle FC Copenhagen verwelkom. City het reeds een stewel in die kwarteindronde nadat hy die eerste ronde van die kragmeting drie-een gewen het. Spanbestuurder, Pep Guardiola, sê hul onmiddellike doelwit is om die laaste agt te bereik:
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-85-sent teen die dollar, 20-rand-51-sent teen die euro en 23-rand-82-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-524-dollar-35-sent. Die prys van goud is twee-duisend-138-dollar-47-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-81-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….