Nuus 17:00
BULLETIN 6 Maart 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa verwyder die Wes-Kaapse regterpresident uit sy pos
# Fase 4-beurtkrag begin om 8-uur vanaand
# En rugby: Kolisi behoort fiks te wees vir die toets teen Wallis na ‘n hand-operasie
# President Cyril Ramaphosa het amptelik die Wes-Kaapse regterpresident, John Hlophe, uit sy pos verwyder. Die besluit volg op bevindings van ernstige wanoptrede deur die Regterlike Dienskommissie. Daarby het ‘n besluit van die Nasionale Vergadering, gesteun deur meer as twee-derdes van die lede, sy verwydering versoek. Hlophe is in 2008 beskuldig van ‘n poging om twee regters van die Konstitusionele Hof, Bess Nkabinde en Chris Jafta, onbehoorlik te beïnvloed. Hlope verloor nou sy voordele, wat ‘n lewenslange salaris, motortoelaag en omvattende mediese sorg insluit.
# Eskom het aangekondig fase 4-beurtkrag skop vanaand 8-uur in tot vyf-uur môre-oggend. Daarna sal fase 2 geld tot agt-uur môre-aand, gevolg deur fase 4 tot vyf-uur Vrydag-oggend. Dit word genoodsaak deur die vertraging in die her-indiensstelling van drie opwekkings-eenhede, sowel as die behoefte om nood-reserwes aan te vul.
# Rise Mzansi sê hy verwag ‘n aansienlike kiesersverskuiwing en posisioneer homself as ‘n geloofwaardige alternatief vir die ANC en die DA in die komende verkiesing. Die party het ‘n plek bevestig op die nasionale en nege provinsiale stembriewe, nadat hy die verkiesingsdeposito van 750-duisend-rand en die minimum aantal handtekeninge landwyd kon bereik. Die leierskap het 19 uiteenlopende kandidaatlyste afgehandel. Mabine Seabe van Rise Mzansi sê kandidaat-profiele word gefinaliseer op die Onafhanklike Verkiesingskommissie se stelsel, en dit sal voor Vrydag se spertyd gereed wees:
# Die Wes-Kaapse LUR vir Onderwys David Maynier sê ouers word aangemoedig om aktief deel te neem en kandidate vir skoolbeheerliggame te kies. The 2024-skoolbeheerliggaamverkiesings vind binne die volgende paar weke plaas, en betrek ouers, onderwysers, nie-onderwyspersoneel en leerders in graad 8 tot 12. Maynier sê daar kan regstreeks of elektronies gestem word:
# Rugby: Die Springbok-kaptein, Siya Kolisi, glo hy sal 100-persent fiks wees vir die begin van die toetsseisoen. Hy het ‘n suksesvolle operasie ondergaan na ‘n handbesering terwyl hy vir die Franse klub Racing (Rassieng) 92 gespeel het. Kolisi is nie oorweeg vir die Bokke se belyningskamp vandag in Kaapstad nie, saam met die Bok-vleuel Cheslin Kolbe wat ook sy hand seergemaak het terwyl hy vir die Japanse klub Suntory Sungoliath gespeel het. Suid-Afrika se eerste toets sedert hulle die Wêreldbeker gewen het, is op 22 Junie teen Wallis op Twickenham.
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-89-sent teen die dollar, 20-rand-54-sent teen die euro en 24-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-178-dollar-47-sent. Die prys van goud is twee-duisend-133-dollar-38-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-49-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….