Nuus 09:00
BULLETIN 6 Maart 09:00
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die minister van Elektrisiteit sê Eskom is besig om die bedryfskapasiteit van sy aanlegte te verbeter
# TLU SA is bekommerd oor die misbruik van fondse in die Departement van Landbou
# En motorsport: Die FIA-president Ben Sulayem staar nuwe aantygings in die gesig
# Die minister van Elektrisiteit, Kgosientsho Ramokgopa, sê hy werk nou saam met Eskom om alle aanlegverwante tekortkominge aan te spreek, wat sal lei tot ‘n beduidende verbetering in die kragvoorsiener se uitset. ’n Opera-evalueringsverslag oor die werking van Eskom se steenkoolkragstasies is verlede week vrygestel. Luidens die verslag kan die onderprestasie van die steenkoolkragstasies hoofsaaklik toegeskryf word aan die ‘n wanfunksionele en ingewikkelde bestuurstelsel. Ramokgopa sê daar word tans pogings aangewend om die bedryfsvermoë van Eskom se aanlegte te verbeter.
# Die Landbou-organisasie, TLU SA sê die misbruik van fondse in die Departement van Landbou, soos onthul in ‘n parlementêre komitee se begrotingsoorsig en -aanbevelingsverslag, is uiters kommerwekkend. Die verslag onthul verkwistende uitgawes het 33-duisend-rand beloop in die 2021-2022-boekjaar. In 2022-2023 het dit drasties toegeneem tot 30-miljoen-rand. Bennie van Zyl van TLU SA, sê die meeste van dié verkwistende uitgawes was betalings vir dienste wat nie gelewer is nie:
# Die eThekwini-burgemeester, Mxolisi Kaunda, sê ál die nodige stappe binne die wet sal gedoen word, om te verseker dat werknemers wat betrokke is by die onwettige staking terugkeer werk toe, óf andersins afgedank word. Die munisipaliteit het ‘n dringende Arbeidshof-interdik bekom teen stakende werknemers verbonde aan die Suid-Afrikaanse Munisipale Werkersunie. Die munisipaliteit se woordvoerder, Gugu Sisilana, sê 20 stakende werkers is reeds geskors:
# Die Chinese ambassadeur, Chen Xiaodong, het sy termyn in Suid-Afrika afgesluit. Hy was sedert 2020 in die pos. Tydens sy ampstermyn het hy Chinese hulp en skenkings tydens die pandemie gefasiliteer en ook Suid-Afrikaanse beesvleis- en rooibostee-uitvoere na China uitgebrei. Chinese beleggings in die Suid-Afrikaanse ekonomie het ook voortgegaan, met werksgeleenthede wat geskep is. Tydens sy afskeidsonthaal in Pretoria het Xiaodong die voortgesette bilaterale politieke en handelsbetrekkinge tussen die twee lande geloof:
# Motorsport: Formule 1 se beheerliggaampresident, Mohammed Ben Sulayem, staar nuwe aantygings in die gesig. Hy word nou daarvan beskuldig dat hy amptenare aangesê het om nie die Las Vegas-baan vir die wedren verlede jaar te sertifiseer nie. Na wat verneem word, is die eis van dieselfde fluitjieblaser afkomstig, wat die FIA-president daarvan beskuldig het dat hy aan amptenare sou gesê het om ‘n straf van die Aston Martin-bestuurder Fernando Alonso om te keer in Saoedi-Arabië verlede jaar. Die FIA het bevestig dat sy voldoeningsbeampte ‘n verslag ontvang het waarin bewerings uiteengesit word waarby sekere lede van beheerliggame moontlik betrokke is.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-95-sent teen die dollar, 20-rand-57-sent teen die euro en 24-rand-7-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-480-dollar-35-sent. Die prys van goud is twee-duisend-125-dollar-71-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-15-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….