Nuus 07:00
BULLETIN 6 Maart 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa sal vandag ‘n vorderingsverslag ontvang oor uitdagings in sleutelfokusgebiede
# Solidariteit waarsku oor die regering se misleidende inligting oor die belastinggevolge van die NGV
# En tennis: Simona Halep se dwelmskorsing word onmiddellik opgehef
# President Cyril Ramaphosa vergader vandag met kabinetslede, senior sakeleiers en tegniese kenners om ‘n vorderingsverslag te ontvang. Tegniese kenners van die regering en die sakewêreld sal ʼn vorderingsverslag voorlê oor ingrypings om probleme op die gebied van energie, vervoer en logistiek, asook fokusareas wat misdaad en korrupsie betref aan te spreek. Die presidensie sê hy gaan voort om met sakeondernemings saam te werk om uitdagings in verband met ekonomiese groei te hanteer en beleggers en die publiek se vertroue te herstel.
# Die vakbond Solidariteit beskuldig die regering van misleiding van die publiek oor die belasting-gevolge van die Nasionale Gesondheidsversekering. Die vakbond waarsku die brosjure se verwysing na ‘n klein belastingbedrag, kan 14-persent van elke werknemer se inkomste beloop. Die vakbond het teenstrydighede tussen die brosjure se bewerings en die werklike wetgewing aangehaal, wat ‘n bykomende bedrag van ‘n ekstra 300-duisend-miljard-rand vir die NGV aandui. Theuns du Buisson van Solidariteit meen die Nasionale Tesourie se gebrek aan ‘n begroting vir die NGV dui aan dit kan dalk nie werk nie, en dring aan die regering moet die plan laat vaar.
# Eskom het die versekering gegee hy is op koers om die voerpype by die Kusile-kragstasie teen Desember 2024 te herstel, voor die 31 Maart 2025-sperdatum. Die drie opwekkers wat in Oktober 2022 afgeskakel is nadat ‘n skoorsteen ineengestort het, het tot ‘n toename in beurtkrag gelei. Eskom het ook strategieë aangekondig om skadelike uitstralings te versag en die gemeenskap se veiligheid tydens herstelwerk te verseker. Dit sluit in voortdurende gesondheidsondersoeke en bykomende toerusting om omgewingsgehalte en spesifiek swaweldioksied-uitstralings te monitor.
# Die Stad Johannesburg sê hy vervolg uitvoerende hoofde van groot maatskappye wat die metro miljoene rand skuld vir munisipale dienste. Hy doen dit deur die Walk the Floor Revenue Collection Campaign. ʼn Woordvoerder van die stad, Nkosana Lekotjolo, sê hulle vertel die uitvoerende hoofde die harde werklikheid: Die metro sal nie langer dienste soos water en elektrisiteit lewer indien hulle nie daarvoor betaal nie, en hierdie dienste is noodsaaklik om hulle ondernemings te bedryf:
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Naledi Pandor, sê magtige nasies moet saamwerk om kritieke humanitêre hulp aan Gaza te lewer. Die uitgerekte konflik tussen Israel en Hamas het in Oktober verlede jaar begin. Pandor het tydens ‘n ontmoeting met haar Deense eweknie, Lars Løkke Rasmussen, gewaarsku teen afgryslike gevolge soos hongersnood onder kinders en ernstige gesondheidskwessies vir pasgeborenes, indien hulp nie dringend verleen word nie. Sy doen ‘n beroep vir internasionale ondersteuning om verdere lyding en ‘n verswakkende humanitêre situasie in die streek te voorkom:
# Tennis: Die Hof vir Arbitrasie in Sport het Simona Halep se skorsing weens opkikkers van vier jaar tot nege maande verminder. Tennis se internasionale integriteitsagentskap het die tweemalige Grand Slam-kampioen tot Oktober 2026 geskors nadat sy in Augustus 2022 by die Amerikaanse Ope positief getoets het vir roxadustat. Die hof het bevind Halep het op ʼn oorwig van waarskynlikhede nie doelbewus roxadustat ingeneem nie. Aangesien sy reeds sedert Oktober 2022 voorwaardelik geskors is, kan die Roemeen onmiddellik na die sport terugkeer omdat die nege-maande-skorsing op ses Julie verlede jaar al verstryk het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-96-sent teen die dollar, 20-rand-58-sent teen die euro en 24-rand-8-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-455-dollar-87-sent. Die prys van goud is twee-duisend-125-dollar-27-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 81-dollar-90-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….