Goeie Nuus
BULLETIN 5 Maart
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Kristy Greener, wat haar eerste Midmar-myl-medalje gewen het, sê sy is trots dat sy die 51ste weergawe van die wêreld se grootste oopwater-swemgeleentheid in die Midmardam naby Howick kon voltooi. Die blinde personeellid van die Universiteit van KwaZulu-Natal lei aan idiopatiese motoriese poli-neuropatie wat haar hande en voete aantas. Greener het in 2022 en verlede jaar die Capital-K-oopwater-swemgeleentheid voltooi voordat sy vanjaar die Midmar-myl aangepak het. Sy sê sy is vasbeslote om volgende jaar haar tyd van een-uur-14-minute te verbeter.
# Die Mastercard-stigting se beursprogram by die Universiteit van Pretoria het sy hervormende uitwerking uitgebrei deur voorkeur te gee aan vroue, vlugtelinge, plaaslik ontheemde mense en mense met gestremdhede. Die program bevorder positiewe verandering deur die volgende geslag leiers te ondersteun wat in hulle studieveld presteer, maar nie geld vir hoër onderwys het nie. Die universiteit se tussentydse visekanselier, Themba Mosia, sê die program oortref sy doelwit om globaal die lewens van begaafde Afrika-studente te vorm.
# Die Stad Kaapstad sê hy gebruik waardevolle geleenthede om jongmense te betrek by die kwessie van afval en hulle deur opvoeding aan te moedig om deel van die oplossing te wees. Die stad se Stedelike Afvalbestuurspan het onlangs die Laerskool iKhwezilesizwe in Khayelitsha besoek om waardevolle opvoeding oor herwinning te gee. Die burgemeesterskomiteelid vir Stedelike Afvalbestuur, Grant Twigg, sê die stad se gelukbringer teen rommelstrooiery, Bingo, was van groot hulp:
# Megan Markle is deel van ‘n sterbelaaide paneel op die openingsdag van die South by Southwest-konferensie wanneer dit Vrydag afskop. Die paneel se onderwerp is Om grense te verskuif, verhale te vorm: Hoe vroue op en van die skerm lei. Die model, aktrise en ondernemer, Brooke Shields, die joernalis Katie Couric en die skrywer, sosioloog en popkultuur-kenner, Nancy Wang Yuen, sal by die hertogin van Sussex aansluit. Ander gassprekers op vanjaar se konferensie sluit in die sanger en aktrise Selena Gomez, die aktrise Pamela Adlon en die skerpskertser Danny Brown.
# En, laastens: Motorsport: Die voormalige Oostenrykse renjaer Gerhard Berger is oorstelp nadat hy sy Ferrari wat 28 jaar gelede gesteel is, teruggekry het. Die supermotor het verdwyn kort na die San Marino Grand Prix in Italië in 1995, saam met die privaat motor van die Franse bestuurder Jean Alesi. Londen se metropolitaanse polisie het onlangs met ‘n ondersoek begin nadat Ferrari hulle ingelig het ‘n motor wat deur ‘n Britse makelaar verkoop is, is as gesteel uitgeken. Die polisie het die rooi Testarossa se geskiedenis binne vier dae nagegaan en dit met die regmatige eienaar herenig.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….