Nuus 13:00
BULLETIN 5 Maart 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Maatskappye- en Intellektuele Eiendomskommissie ondersoek die omvang van ‘n kuber-inbraak
# Sanef vra dat groot tegnologiemaatskappye aanspreeklik gehou word
# En sokker: Australië se vrouekaptein pleit onskuldig op ‘n ras-aanklag
# Die Maatskappye- en Intellektuele Eiendomskommissie sê hy stel ondersoek in om die omvang van blootstelling na die onlangse data-inbraak te bepaal. Daar is by die maatskappy se amptelike databasis ingebreek en sekere persoonlike inligting van sy werknemers en kliënte is onwettig ontbloot. Die agentskap van die Departement van Handel, Nywerheid en Mededinging, doen ‘n beroep op kliënte op waaksaam te wees in die hantering van kredietkaarttransaksies. Die inligtingsreguleerder sê hy het sedert Januarie vanjaar 224 kennisgewings van sekerheidsinbrake ontvang.
# Die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum vra die Mededingingskommissie om groot maatskappye soos Google en Meta te dwing om strenger reëls vir die uitgee en verspreiding van nuusinhoud in te stel. Die forum het ‘n voorlegging gedoen aan die kommissie se markondersoek oor media- en digitale platforms in Pretoria. Die direkteur van spraakvryheid en media-ontwikkeling by die Verenigde Nasies-organisasie UNESCO, Guy Berger, steun Sanef se voorlegging. Hy sê nuusverskaffers is wetlik aanspreeklik vir die inhoud wat hulle versprei, maar groot tegnologiemaatskappye kan hulle verantwoordelikheid ontduik:
# ActionSA in Ekurhuleni aan die Gautengse Oos-Rand sê die raadsvergadering wat die EFF Donderdag ontwrig het, moet dringend hervat word. Die vergadering is belê om onder meer debat te voer oor ‘n mosie van wantroue wat ActionSA teen die burgemeester, Sivuyile Ngodwana, wou indien. Die vergadering het egter in chaos ontaard toe EFF-raadslede uittartend opgetree en waterbottels rondgegooi het. Vuisgevegte het ook uitgebreek tussen hoofsaaklik ANC- en EFF-lede. Andrew Harris van ActionSA sê Ngodwana sal beslis uit sy amp verwyder word:
# Die boedel van die oorlede Ierse sanger en liedjieskrywer Sinéad O’Connor het die voormalige Amerikaanse president, Donald Trump, gevra om nie haar musiek te gebruik in sy herverkiesingsveldtog nie. Hy het verlede maand haar treffer Nothing Compares to You op ‘n saamtrek in Maryland gebruik. ‘n Woordvoerder het aan BBC News gesê dit is nie ‘n oordrywing nie om te sê O’Connor sou gewalg, seergemaak en beledig gevoel het om haar werk op so ‘n manier te sien misbruik word deur iemand wat sy beskryf het as ‘n ‘Bybelse duiwel’. Sy is verlede jaar op 56 oorlede.
# Sokker: Australië en Chelsea se doelskopper, Sam Kerr, het onskuldig gepleit op ʼn aanklag van rasse-teistering van ʼn Londense polisiebeampte. Die 30-jarige speler word beskuldig dat sy in Januarie op Twickenham beledigende, dreigende of skeldtaal gebruik het wat ʼn polisiebeampte ontsteld of bedreig laat voel het. Kerr, wat Australië se rekord-doelskopper is met 64 doele in 125 wedstryde, sal in Februarie volgende jaar verhoor word. Sokker Australië se uitvoerende hoof, James Johnson, sê dis ernstige aantygings en daar is geen plek vir rassisme in die sport nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-6-sent teen die dollar, 20-rand-69-sent teen die euro en 24-rand-18-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-578-dollar-91-sent. Die prys van goud is twee-duisend-124-dollar-25-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-75-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….