Nuus 12:00
BULLETIN 5 Maart 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Parlementêre vergadering kan moontlik besonderhede oor SAL se verkoop onthul
# Die eerste uitbetaling word gedoen vir die aanmelding van ‘n onwettige vuurwapen in die Wes-Kaap
# En, die Wêreld-teen-dwelmagentskap skors Suid-Afrika se dwelmlaboratorium in Bloemfontein
# Besonderhede oor die verkoop van die Suid-Afrikaanse Lugdiens aan die Takatso-konsortium wat die minister van Openbare Ondernemings Pravin Gordhan glo geheim wil hou, kan moontlik môre in ‘n parlementêre portefeuljekomiteevergadering onthul word. ‘n Hangende regsmening en die evaluering van dokumente sal die vergadering se klassifikasie as geslote of oop bepaal. ‘n Belang van 51-persent is aan Takatso toegeken – slegs ses weke nadat die redery uit sakeredding gekom het. Takatso het ‘n belegging van drie-miljard-rand beloof, maar twyfel bestaan steeds want die opposisie bevraagteken ‘n aandele-inspuiting teenoor bedryfskapitaal.
# ‘n Ontleder sê in ‘n scenario waar die ANC minder as 45-persent van die stemme kry, sal ‘n koalisie van die IVP saam met ander kleiner partye die regerende party aan bewind plaas. ‘n Ontleder van Krutham, Peter Attard Montalto, beraam die ANC sal 43,6-persent van die nasionale stem op hom verenig. KwaZulu-Natal sal die brandpunt wees van die verkiesing op 29 Mei. Hy sê in ‘n Nasionale Vergadering ná die verkiesing sal die Patriotic Alliance ‘n handjievol setels hê en Rise Mzansi sewe of agt setels.
# Die Suid-Afrikaanse Olie- en Gas-alliansie vra die regering om nie die ontwikkeling van ‘n funksionerende gas-ekonomie te vertraag nie. Die huidige hoofverskaffingsbron is twee gasvelde wat Sasol in Mosambiek bedryf, maar Suid-Afrikaanse kliënte sal van die middel van 2026 nie meer voorsien word nie. Dit stel 70-duisend werksgeleenthede in gevaar in ondernemings wat op gas as ‘n sleutel-inset staatmaak. Die ondernemings skep ‘n jaarlikse inspuiting van 500-miljard-rand vir die ekonomie. Die alliansie se woordvoerder, Adrian Strydom, sê verbruikers sal erg geraak word deur die domino-uitwerking van gastekorte:
# Die Wes-Kaapse LUR vir Polisie-oorsig en Gemeenskapsveiligheid, Reagen Allen, sê die eerste uitbetaling van drie-duisend-rand vir die aanmeld van ‘n onwettige vuurwapen is verlede maand gedoen. Die ontvanger het in Desember ‘n onwettige vuurwapen by die Gansbaaise polisiekantoor aangemeld. Allen sê dit het gelei tot die beslaglegging op ‘n punt-3-8-rewolwer en ammunisie en ‘n verdagte is in hegtenis geneem. Hy sê as daar ‘n suksesvolle skuldigbevinding in die saak is, sal die verklikker ‘n verdere twee-duisend-rand ontvang:
# Die wêreld se teen-opkikkeragentskap, WADA, het die Suid-Afrikaanse opkikkerbeheer-laboratorium in Bloemfontein vir tot ses maande geskors omdat dit nie die internasionale standaard vir laboratoriums se regulasies nakom nie. Die agentskap sê die skorsing verbied die laboratorium om enige teenopkikker-aktiwiteite uit te voer. Dit sluit in die ontleding van urien- en bloedmonsters, maar ontledings wat verband hou met die hematologiese module van atlete se biologiese paspoort word wel toegelaat. Die instelling is Afrika se enigste geakkrediteerde laboratorium vir opkikkertoetse.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-4-sent teen die dollar, 20-rand-66-sent teen die euro en 24-rand-13-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-518-dollar-85-sent. Die prys van goud is twee-duisend-123-dollar-7-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-62-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….