Nuus 11:00
BULLETIN 5 Maart 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Ontleder glo die waarskynlikste na-verkiesingscenario is ‘n ANC/IVP-koalisie
# Die Universiteit Kaapstad sê ‘n uitnodiging aan Matshela Koko is nie ‘n vorm van bekragtiging nie
# En, ‘n VN-verslag wys Hamas het gyselaars verkrag en gemartel
# ‘n Ontleder sê in ‘n scenario waar die ANC minder as 45-persent van die stemme kry, sal ‘n koalisie van die IVP saam met ander kleiner partye die regerende party aan bewind plaas. ‘n Ontleder van Krutham, Peter Attard Montalto, beraam die ANC sal 43,6-persent van die nasionale stem op hom verenig. KwaZulu-Natal sal die brandpunt wees van die verkiesing op 29 Mei. Hy sê in ‘n Nasionale Vergadering ná die verkiesing sal die Patriotic Alliance ‘n handjievol setels hê en Rise Mzansi sewe of agt setels.
# Die Universiteit van Kaapstad sê ‘n uitnodiging aan Eskom se gewese hoof, Matshela Koko, is nie bekragtiging nie maar in ooreenstemming met akademiese vryheid by die instelling. Koko, wat in die staatskapingskommissie se verslag betrek word, is verlede week deur die universiteit se Departement van Siviele Ingenieurswese uitgenooi om ʼn lesing oor etiek en professionalisme aan te bied. Die universiteit sê hy erken die Zondo-kommissie se waardevolle werk, maar voeg by Koko is nie in enige hof aan enige misdaad skuldig bevind nie.
# RISE Mzansi sê Gauteng se pas aangestelde polisiekommissaris, Tommy Mthombeni, moet waak teen politieke inmengery wat sy mandaat betref om misdaad te voorkom, te beveg en te ondersoek. Mthombeni, wat langer as 38 jaar in die Suid-Afrikaanse Polisiediens is, het by Elias Mawela oorgeneem wat verlede maand afgetree het. RISE Mzansi se woordvoerder, Mabine Seabe, sê dis duidelik die huidige wetstoepassingmetodes werk nie om Gauteng se gemeenskappe veilig te hou nie:
# Daar is onweerlegbare bewyse dat sommige vroue en kinders wat Hamas as gyselaars aanhou, verkrag en seksueel aangerand word. Dit is volgens ‘n verslag van die Verenigde Nasies. Hamas het die suide van Israel op 7 Oktober verlede jaar ingeval en sowat een-duisend-200 mense gedood en 253 gyselaar geneem. Israel het gereageer met ‘n militêre veldtog in Gaza en meer as 30-duisend mense gedood. Die VN se spesiale verteenwoordiger oor Seksuele Geweld in Konflik. Pramila Patten, sê gyselaars word onmenslik en vernederend behandel:
# Die wêreld se teen-opkikkeragentskap, WADA, het die Suid-Afrikaanse opkikkerbeheer-laboratorium in Bloemfontein vir tot ses maande geskors omdat dit nie die internasionale standaard vir laboratoriums se regulasies nakom nie. Die agentskap sê die skorsing verbied die laboratorium om enige teenopkikker-aktiwiteite uit te voer. Dit sluit in die ontleding van urien- en bloedmonsters, maar ontledings wat verband hou met die hematologiese module van atlete se biologiese paspoort word wel toegelaat. Die instelling is Afrika se enigste geakkrediteerde laboratorium vir opkikkertoetse.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-8-sent teen die dollar, 20-rand-70-sent teen die euro en 24-rand-20-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-894-dollar-13-sent. Die prys van goud is twee-duisend-115-dollar-45-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 82-dollar-48-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….