Nuus 07:00
BULLETIN 5 Maart 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA is gereed om die NGV-wetsontwerp teen te staan sodra dit onderteken word
# Die EFF eis die verwydering van die speaker van die Nasionale Vergadering te midde van korrupsiebewerings
# En, die VSA stel sanksies in teen die Zimbabwiese president en ander senior leiers en instellings
# Die DA sê hy het regsadvies ingewin en is gereed om die Wetsontwerp op die Nasionale Gesondheidsversekering teen te staan, sodra president Cyril Ramaphosa dit onderteken. Die party kritiseer die Nasionale Tesourie se plan om die NGV te befonds met verhoogde belasting, en noem dit ongrondwetlik en regressief. Die party reken die NGV-wetsontwerp sal nie die staatsgesondheidstelsel verbeter nie en sal ‘n las wees op laer-inkomste-huishoudings. Dion George van die DA stel ‘n alternatiewe model voor wat fokus op bestuurshervorming en openbare privaat vennootskappe:
# Die EFF eis die onmiddellike verwydering van die speaker van die Nasionale Vergadering, Nosiviwe Mapisa-Nqakula. Sy word daarvan beskuldig dat sy omkoopgeld van altesaam 2,3-miljoen-rand van ‘n kontrakteur van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag ontvang het toe sy nog die minister van Verdediging en Militêre Veterane was. Mapisa-Nqakula ontken enige skuld. Die EFF sal die speaker by die Parlement se Etiekkomitee rapporteer. Die party sê blatante minagting van etiese gedrag en die gereg kan nie geduld word nie.
# Die minister van Binnelandse Sake, Aaron Motsoaledi, het ‘n riglyn uitgereik wat immigrasie-amptenare moet gebruik om ʼn bevel van die Konstitusionele Hof na te kom. Die riglyn wat tot drie Oktober van krag is, vereis dat immigrasie-amptenare spesifieke vorms gebruik vir die inhegtenisneming, aanhouding en vrylating van onwettige buitelanders. Die minister het terselfdertyd aansoek gedoen om in die Konstitusionele Hof te appelleer teen die Appèlhof se verwerping van die Zimbabwe-vrystellingspermit-saak. Motsoaledi het beloof om alle regsweë tot sy beskikking te gebruik.
# Die munisipale vakbond Samwu in die Vrystaat eis dat die burgemeester van die Matjhabeng plaaslike munisipaliteit, Thanduxolo Khalipha, onmiddellik gearresteer word ná ʼn beweerde aanranding waarby een van die vakbondlede betrokke was. Die lid is volgens berigte verlede Woensdag voor kollegas aangerand. Die vakbond sê ʼn saak is aanhangig gemaak, maar Khalipha is nog nie aangekla of in hegtenis geneem nie. Samwu se woordvoerder, Papikie Mohale, eis dat die polisie en die Nasionale Vervolgingsgesag vinnig optree en dreig met oproer as hulle nie optree nie:
# Die Amerikaanse regering het sanksies ingestel teen president Emmerson Mnangagwa van Zimbabwe en ander senior amptenare oor hul beweerde betrokkenheid by korrupsie en menseregtevergrype. Die sanksies dek elf individue en drie instellings. Benewens Mnangagwa, is vise-president Constantino Chiwenga en ‘n sakeman, Kudakwashe Tagwirei ook ingesluit. Die Amerikaanse regering sê die gedrag van sommige van die magtigste mense en maatskappye in Zimbabwe kan vergelyk word met die grootste skenders van menseregte en korrupte persone ter wêreld.
# Motorsport: FIA se president, Mohammed Ben Sulayem, word volgens berigte ondersoek omdat hy probeer het om in te meng by die uitslag van verlede jaar se Formule Een Saoedi-Arabië Grand Prix. Hy het na bewering probeer ingryp om ʼn boete aan Fernando Alonso van Aston Martin om te keer. Alonso het voorwaardelik derde geëindig op die Jeddah-baan, maar hy het ná die resies ʼn boete van tien-sekondes gekry omdat werktuigkundiges aan sy voertuig gewerk het voordat ʼn vorige straftydperk van vyf sekondes verstreke was. Die FIA se etiekkomitee ondersoek die saak.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-5-sent teen die dollar, 20-rand-67-sent teen die euro en 24-rand-17-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-306-dollar-95-sent. Die prys van goud is twee-duisend-112-dollar-70-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 82-dollar-66-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….