Nuus 17:00
BULLETIN 4 Maart 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Vrystaatse polisie ondersoek ‘n rooftog op ‘n voormalige premier se plaas
# Die DA vra ‘n onmiddellike ondersoek na die beweerde omkopery van speaker Mapisa-Nqakula
# En, krieket: Markram word vervang as die kaptein van Sunrisers Hyderabad
# Die polisie in die Vrystaat ondersoek vanoggend se rooftog by die plaashuis van die voormalige premier van die provinsie, Sisi Ntombela, in Holfontein in die Heilbron-distrik. Onbekende mans het die Ntombela’s se selfone en bankkaarte gesteel. Die provinsiale kommissaris, Baile Motswenyane, het bronne mobiliseer om die skuldiges vas te trek.
# Die DA vra ‘n onmiddellike ondersoek na die beweerde omkopery van die speaker van die Nasionale Vergadering, Nosiviwe Mapisa-Nqakula. Sy word betrek in ‘n beëdigde verklaring wat deel vorm van ‘n korrupsiesaak teen ‘n Weermag-kontrakteur, wat beweer Mapisa-Nqakula het tydens haar termyn as minister van Verdediging omkoopgeld van meer as twee-miljoen-rand gevra. Mapisa-Nqakula hou vol sy is onskuldig en onderneem om met die ondersoek saam te werk. Die hoofsweep van die DA, Siviwe Gwarube, het bevestig die party sal ‘n klagte by die Etiekkomitee indien:
# Die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente sê hy werk aktief saam met die bestuur van universiteite en kolleges vir gevorderde onderwys en opleiding, asook studenteleierskap, om ‘n naatlose aanvang van vanjaar se akademiese jaar te verseker. Die raad en die uitvoerende bestuur, onder leiding van die waarnemende voorsitter, Lourens van Staden, het die media ingelig oor belangrike aspekte soos die registrasieproses, toelaagbetalings en die nuwe studenteverblyf-projek. Van Staden sê instellings moet Februarie en Maart se toelaes betaal, gevolg deur regstreekse betalings aan ondernemings wat verblyf voorsien:
# Egipte ondersoek die uitvoerbaarheid van die uitbreiding van die Suez-kanaal om deurgangtye te verbeter en moontlike versperring van die waterweg te voorkom. Die hoof van die Suezkanaal-owerheid, Osama Rabie, sê die studie kyk na die logistiese uitdagings en die vaartbelyning van die lewensbelangrike maritieme roete. Twaalf-persent van die wêreld se maritieme handel beweeg deur die kanaal. Rabie verwag die uitbreiding sal algehele veiligheid verseker vir vaartuie wat die kanaal gebruik. Die koste en sperdatums vir die afhandeling van die projek is nog nie bekend nie.
# Krieket: Die Proteas se T20-kaptein, Aiden Markram, is vervang as kaptein van Sunrisers Hyderabad in die Indiese Premierliga. Die span sal gelei word deur die Australiese kaptein, Pat Cummins. Markram was kaptein van Sunrisers Eastern Cape, wat die eerste twee seisoene van die SA20 gewen het, maar Hyderabad het verlede jaar laaste geëindig onder die tien spanne in die IPL nadat hulle net vier van hulle 14 wedstryde kon wen. Die IPL begin die 22ste van dié maand met ‘n kragmeting tussen Chennai Super Kings en Royal Challengers Bangalore.
# En, die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-3-sent teen die dollar, 20-rand-65-sent teen die euro en 24-rand-12-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-134-dollar-43-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-82-dollar-76-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 83-dollar-24-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….