Nuus 11:00
BULLETIN 4 Maart 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC se topbestuur vergader om die party se verkiesingslyste te finaliseer
# Nikki Haley wen die Republikeinse voorverkiesing in Washington
# En, rugby: Frankryk wen sy eerste mans-Sewestitel in 19 jaar
# ANC-leiers vergader vandag in die Birchwood-konferensiesentrum in Boksburg om die party se verkiesingslyste te finaliseer. Die regerende party se Integriteitskommissie het volgens berigte aanbeveel dat lede wie se name in die staatskapingskommissie se verslag genoem word, nie op die lyste verskyn nie. Van die lede wat genoem word in verband met magsmisbruik, versaking van pligte en beweerde korrupsie, sluit in ministers Gwede Mantashe, Zizi Kodwa en Khumbudzo Ntshavheni. Partye en onafhanklike kandidate het tot Vrydag tyd om hul verkiesingslyste in te dien.
# Die Nasionale Finansiële Hulpfonds vir Studente gee vandag die jongste bywerking terwyl die registrasietydperk vir sommige universiteite gesluit het. Dit sal inligting insluit oor die registrasieproses, betaling van toelaes en die loodsprojek vir studenteverblyf. Die skema het meer as drie-miljard-rand aan universiteite en kolleges verskaf om registrasiekoste en toelaes vir die akademiese jaar se eerste maand te dek.
# Wes-Kaapse damvlakke het tot gemiddeld byna 66-persent gestyg, wat aansienlik beter is as die sowat 49-persent dieselfde tyd verlede jaar. Inwoners word egter steeds aangemoedig om water spaarsaam te gebruik. Die Nasionale Departement van Water en Sanitasie se woordvoerder, Malusi Rayi, sê die onvoorspelbaarheid van klimaatsverandering beïnvloed waterbewaring:
# Die voormalige goewerneur van Suid-Carolina, Nikki Haley, het die Republikeinse presidensiële voorverkiesing in Washington gewen. Dis haar eerste oorwinning oor oudpresident Donald Trump en sy het 62,9-persent van die stemme gekry teenoor Trump se 33,2-persent. Vyftien state hou môre op sogenaamde Super-Dinsdag voorverkiesings en die oudpresident se status as Republikeinse kandidaat sal na verwagting verseël word. Haley se veldtog-woordvoerder, Olivia Perez-Cubas, sê dis nie verbasend dat Republikeine in Washington Trump en sy chaos verwerp het nie.
# Rugby: Frankryk het Groot-Brittanje verslaan en die Wêreldrugby Sewesreeks-titel in Los Angeles verower. Dit is hulle eerste titel in 19 jaar. Frankryk het die mans se goue medalje verseker met drie onbeantwoorde drieë in ‘n oorwinning van 21-nul. Hul enigste vorige oorwinning was in 2005 in Parys. Verder het hulle al ses eindstryde verloor waarin hulle sedertdien meegeding het. Die Speler van die Wedstryd in die eindstryd, Stephen Parez, sê dis wonderlik dat hulle verlede week ‘n bronsmedalje in Kanada, en dié week goud kon wen:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-10-sent teen die dollar, 20-rand-73-sent teen die euro en 24-rand-21-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-646-dollar-73-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-84-dollar-68-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 83-dollar-46-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….