Nuus 08:00
BULLETIN 4 Maart 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Vandag is die laaste dag om beswaar te maak teen die voorlopige kieserslys
# Kamala Harris vra vir ‘n onmiddellike skietstilstand in Gaza
# En rugby: Die Blitsbokke klop Kanada en eindig 11de in Los Angeles
# Dis vandag die laaste geleentheid om beswaar te maak teen die voorlopige kieserslys terwyl die Onafhanklike Verkiesingskommissie gereed maak vir die algemene verkiesing op 29 Mei. Die kommissie sal besware wat hy tot en met vandag ontvang oorweeg en ondersoek, en die uitslag volgende Maandag bekend maak. Die OVK sê daar moet aan die prosedurele vereistes van Artikel 15 van die Kieswet voldoen word wanneer mense beswaar aanteken. Intussen moet alle onafhanklike kandidate en politieke partye wat aan die verkiesing wil deelneem, teen vyfuur Vrydagmiddag benoemingsvereistes indien.
# Die DA eis dat die regering se Energie-aksieplan onmiddellik geskrap word. Dit volg ná die bekendmaking van ‘n verslag wat Duitse raadgewers, VGBE Energy, vir die Nasionale Tesourie voorberei het oor Suid-Afrika se kragstasies. Die verslag onthul Eskom se wanfunksionele en onnodig ingewikkelde bestuurstelsel is die hoofoorsaak van sy steenkoolkragstasies se swak prestasie. ʼn DA-woordvoerder, Samantha Graham, sê dis duidelik dat die energieplan die uitdagings by steenkoolkragstasies heeltemal verkeerd verstaan:
# Die Gautengse Departement van Gesondheid het die Hooggeregshof in Johannesburg se uitspraak in die mediese-afvaltender-saak tussen hom en Buhle Medical Waste verwelkom. Die maatskappy het die departement beskuldig dat hy ʼn mediese-afvaltender van 525-miljoen-rand onregmatig aan Tshenolo Waste en Phuting Medical Waste toegeken het. Die departement se woordvoerder, Motalatale Modiba, sê die hofbeslissing bevestig hulle het die regte prosesse gevolg in die toekenning van die tender:
# Die Amerikaanse visepresident, Kamala Harris vra vir ‘n onmiddellike skietstilstand in Gaza vir ten minste die volgende ses weke. ‘n Hamas-afvaardiging het gister in Egipte aangekom vir die jongste ronde samesprekings oor ‘n wapenstilstand, wat deur baie bestempel word as die laaste moontlike struikelblok tot ‘n skietstilstand. Harris het by ‘n geleentheid in Selma, in Alabama, ook ‘n beroep gedoen op die Israelse regering, om meer te doen en toe te laat dat hulp die gebied makliker bereik. Sy sê die geweldige omvang van lyding in Gaza is onaanvaarbaar:
# Rugby: Die Blitsbokke het in die Los Angeles-sewes in ʼn teleurstellende elfde plek klaargemaak. Zain Davids, wat twee doele behaal het, asook Ryan Oosthuizen en Tristan Leyds se bydrae het Suid-Afrika ʼn 28-15-sege oor Kanada besorg in die stryd om die elfde plek. Dis die tweede agtereenvolgende toernooi waar die Blitsbokke nie kon slaag om uit hulle groep te vorder nie. Intussen het die Springbok-vrouesewes sesde geëindig nadat hulle met 53-nul teen Frankryk verloor het in die uitspeelstryd vir die vyfde plek.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-8-sent teen die dollar, 20-rand-70-sent teen die euro en 24-rand-18-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 61-duisend-506-dollar-37-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-81-dollar-73-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 83-dollar-63-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….