Nuus 08:00
BULLETIN 3 Maart
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC se Integriteitskommissie wil lede uitsluit wat deur die Zondo-kommissie by staatskaping betrek word
# Die VF Plus se manifes bied ‘n realistiese plan en boodskap van hoop vir die toekoms
# En, rugby: Seges vir die Bulle en die Leeus in VRK-derbies
# Die ANC se Integriteitskommissie het volgens berigte aanbeveel dat byna 100 lede van die party se verkiesingskandidaatslys uitgesluit word. City Press berig sommige van die hoëprofiel-lede word by korrupsie en grootskaalse staatskaping in die Zondo-kommissie-verslag betrek. Diegene wat genoem word is die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Zizi Kodwa; die voormalige president Jacob Zuma; die voormalige minister van Gesondheid, Zweli Mkize; die adjunk-minister van Menslike Nedersettings, Water en Sanitasie, David Mahlobo; die voormalige premier van Noordwes, Supra Mahumapelo; en die parlementslede, Mosebenzi Zwane, Bongani Bongo en Thabang Makwetla.
# Die Vryheidsfront Plus sê dit is tyd om Suid-Afrika te herstel en te herbou sonder die ANC. Na drie dekades van wat hulle beskryf as vernietiging en bankrotskap onder die ANC-regering, glo die VF Plus verandering is nodig. Hulle manifes bied ‘n boodskap van hoop, fokus op veelparty-regerings, ‘n vryemark-ekonomie en die bemagtiging van gemeenskappe. In sy toespraak het die leier Pieter Groenewald oplossings vir werkskepping, onderwys, gesondheid en die bekamping van misdaad voorgestel:
Die party het by dieselfde geleentheid gesê sy verbintenis tot die bevordering van taal en minderheidsregte is duidelik vir almal want hy erken al twaalf amptelike tale, insluitend gebaretaal in sy manifes-bekendstelling. Die party het toeganklikheid verseker deur sy manifes in Braille te verskaf wat elke burgers in staat stel om die boodskap in sy of haar moedertaal te verstaan. Die party se woordvoerder, Wouter Wessels, sê professionele vertaaldienste het die manifes in verskillende tale vertaal om so inklusiwiteit en gelykheid te bevorder:
# Rugby: Albei die Verenigde Rugbykampioenskap-wedstryde in Gauteng is gistermiddag deur ‘n kragtige donderstorm en weerlig vertraag. Die Bulle kon uiteindelik na ‘n reeks van sewe nederlae daarin slaag om die Stormers op ‘n volgepakte Loftus met 40-22 te klop vir ‘n bonuspunt-oorwinning. Johan Grobbelaar het twee keer vir die Bulle gaan druk en Johan Goosen het 18 punte met die skopskoen bygedra. Die Haaie het vroeër hulle treurige seisoenvertoning herhaal toe hulle met 40-10 teen die Leeus in Johannesburg verloor het. Die Leeus se bonuspunt-oorwinning van ses drieë beteken die Haaie het nou tien nederlae in elf wedstryde gely.
# En, om mee af te sluit: Die Stad Kaapstad sê met die Kaapstadse Fietstoer, die Oopboekfees se jeugfees, die Kaapstadse Karnival en die Kaapstadse Branderplankbyeenkoms, wag ‘n besige maand van feestelikhede op die Moederstad. Die metro se Geleenthede-permitkantoor verwag om permitte uit te reik vir meer as 60 geleenthede. Die burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekerheid, JP Smith, sê die wêreld se grootste tyd-bepaalde fietstoer word volgende Sondag om die Moederstad gehou, met meer as 30-duisend fietsryers wat die 109-kilometer- en 49-kilometerroetes rondom die Skiereiland pak:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….