Nuus 07:00
BULLETIN 2 Maart 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering veroordeel Israel se moord op Palestynse burgerlikes wat humanitêre hulp soek
# Die Minister van Polisie beskuldig die DA van verspeiding van waninligting oor die Joslin Smith-soektog
# En, rugby: White sluit 12 Bokke in by Bulle se wedstryd-groep teen Stormers
# Die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking veroordeel Israel se geteikende moord op 112 Palestynse burgerlikes wat humanitêre hulp gesoek het. Die departement kritiseer dit as ‘n skending van internasionale reg en die bindende voorlopige bevele van die Internasionale Geregshof. Suid-Afrika is besig om sy reaksie op Israel se hof-verslag voor te berei, terwyl oproepe toeneem vir hervormings om ‘n einde te bring aan wat as dekades-lange straffeloosheid beskou word. Die departement vra die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad vir ‘n onmiddellike en onvoorwaardelike wapenstilstand om die ontvouende humanitêre krisis te beëindig.
# Die minister van Polisie, Bheki Cele, beskuldig die DA van die verpolitisering van die sensitiewe saak oor die vermiste sewe-jarige Joslin Smith van Saldanahbaai in die Wes-Kaap. Cele het sy teleurstelling uitgespreek oor die party se poging om stemme te werf deur die publiek verkeerd in te lig en te beweer die polisie het aan die soektog onttrek. Die woordvoerder, Lirandzu Themba, sê die minister doen ‘n beroep op die DA om nie die pyn van ‘n gesin wat wag op hul kind se terugkeer uit te buit nie:
Die Wes-Kaapse LUR vir Polisie-oorsig en Gemeenskapsveiligheid, Reagen Allen, het intussen bevestig ‘n 34-jarige man is na ‘n plek van veiligheid verplaas om groeps-dreigemente en eiereg te vermy te midde van die soektog na Joslin Smith. Bykomende polisiebeamptes is ontplooi om met die soektog te help. Volgens Allen is ‘n gesamentlike bevelsentrum gestig om pogings te koördineer met die Suid-Afrikaanse Polisiediens om struikelblokke te vermy wat deur waninligting en sosiale media-ontwrigtings geskep word:
# Rugby: Byna die helfte van die Bulle se groep vir vanmiddag se Verenigde Rugbykampioenskap-wedstryd teen die Stormers in Pretoria is Springbokke. Die direkteur van rugby, Jake White, het 12 toetsspelers ingesluit – 10 in die beginspan en Willie le Roux en Nizaam Carr op die bank. Vir die Stormers keer die Bokke Deon Fourie, Manie Libbok en Damian Willemse terug, nadat hulle rus-protokolle voltooi het. Fourie sal die Kaapstadse span lei. Die afskop op Loftus is om vyf-uur, ná die wedstryd tussen die Leeus en die Haaie op Ellispark.
# En, Eskom sê vanweë die verwagte her-inbedryfstelling van bykomende opwekkingseenhede die naweek, sal beurtkrag tot vieruur vanmiddag opgehef word. Fase 2-beurtkrag word van vieruur môreoggend tot vyfuur die middag hervat. Die afwisselende patroon van opgeskorte beurtkrag – van vyfuur in die oggend tot vieruur in die middag en die instelling van Fase 2-beurtkrag van vieruur in middag tot vyfuur in die oggend – sal herhaal word. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokwena, sê hulle sal môremiddag ‘n opdatering vir die week vorentoe verskaf:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….